Saturday, July 21, 2012

Aand-rituele


Aand-rituele

Wanneer pa saans by die huis gekom het, het ons uitgestorm en hom gegroet asof ons hom ‘n jaar laas gesien het. Dan het die een wat die naaste was sy kosblik gegryp om te kyk of daar nog werksbroodjies oor was. Wat was dan nou lekkerder as so sagte tamatiebroodjie? Pa het sy vuil vol sement-skoene by die agterdeur uitgetrek en vir ma gesoen.

Na ete [altyd aan tafel], het die wie se beurt dit was opgestaan, tafel afgedek en skottelgoed gewas. Dan het pa die bybel gevat en het ons huisgodsdiens gehou. Teen daai tyd was ons al moeg, want ons het heeldag gespeel, skoolwerk gedoen en almal het in die huis gehelp. Ons het nie ons dae voor die rekenaar of televisie omgesit nie. Pa het lank gelees. En ook nie van Adam en Eva nie...nee die sendbriewe van Paulus en oor die anti-chris en ‘n bees met sewe koppe. Ons het hard gekonsentreer want na die lees het pa altyd vir een van ons gevra: ”En waaroor het ek gelees?” Waarop een en almal dieselfde antwoord gegee het: “Van Liewe Jesus, pappa” Want ons kon nie meer onthou of die bees ses of twaalf koppe gehad het en of Paulus Damaskus of Paradys toe gereis het nie.

Daarna het ons gebid. In die ry af, wat beteken het ek moes eerste bid. Wat eintlik ‘n goeie ding was, want nou kon ek eerste die onderwerpe kies om oor te bid. En die ander 7 moes maar vat wat oorbly. Gewoonlik het ek begin deur dankie te sê vir ma en pa en boeties en sussies. Vir kos en klere. Dat ons almal gesond is. Ek kon in my gedagtes sien hoe die ander sug...want ek het min onderwerpe vir hulle oorgelos om oor te bid. Elke aand het ek ook gevra dat “Asseblief Jesus, gee tog dat Dolf my ophou terg” [my broer het my elke dag geterg totdat ek huil}. As dit dan my broer se beurt was het hy weer gevra dat ”Jesus hom tog moet help om nie vir Lien te terg nie” en partykeer onder gebed aan die lag gegaan. Ek dink ons het almal van dankbaarheid gesug as die kleinste sussie ten eiende laaste klaar gebid het.

Die ander kinders het in die bed gaan klim en ek het plat in die gang gaan sit en vir hulle uit die bybel gelees. Een vir een het die egalige asemhalings uit die kamers opgeklink, totdat die laaste Groblertjie rustig aan die slaap geraak het.

Teen die tyd het my ouers klaar hul aandteetjie geniet. Ma is kamer toe en pa het die sitkamer deur agter hom toe gemaak. Nie lank nie en jy kon sy mooi diep stem [hy het nes Ge korsten gesing] hoor opklink in gebed. Die stem het opgestyg tot by God se troon in ootmoediging en algehele afhanklikheid. Soms het jy daar gelê met woelinge in jou hart, maar onder pa se gebed het jou hart stil geword en het jy rustig aan die slaap geraak.

Daarna het pa deur die huis geloop en seker gemaak alles is toe en gesluit. By elke kind se bed het hy stilgestaan en die komberse snoesig opgetrek en om jou gevou. Snags as jy koud en styf wakker word, en te lui was om jou toe te gooi, sou jy maar weer aan die slaap raak..want in jou tussen slaap en wakker toestand sou jy weet...pa gaan my tog netnou weer kom toegooi. Want in die na-nag het pa weer opgestaan om sorgsaam die komberse oor jou te kom trek.

En al was daar nie geld vir luukshede in die huis met die rooi sinkdak nie. Al moes ma mooi bereken en beplan. Al het ons soms goed onder mekaar baklei en gewoel. Het ons geweet. In ons huis was liefde. En dit is tog die grootste van alles.

No comments:

Post a Comment