Tuesday, September 11, 2012

Anna se Make-over


Anna se Make-over

Die oggend toe ek by die klas instap sien ek sommer hier is moeilikheid. ‘n Groepie meisies staan om Anna klapperhaar se bank. Sy het my aan ‘n bang katjie omring deur honger honde laat dink. Die grys oë groot, bang en vol trane. Op die skoolbank voor haar het ‘n haarborsel, ‘n koekie seep, ‘n waslap en ‘n groen bottel colgate appelsjampoe gestaan.

Die grootste en sterkste van die meisies, Ria Engelbrecht het arme klein maer Anna aan die arm beetgehad. Sy het met al haar mag probeer om Anna uit die bank te trek, en ‘n bevreesde Anna het met al haar mag met die maer armpies aan die bank vasgeklou.

“Los die bank, Anna Klapperhaar, vandag leer ons jou hare was,” het Ria deur haar tande gesis en met die hulp van haar maats Anna met een haal uit haar bank gepluk. Anna het op die grond geland. Gelukkig vir hulle en vir Anna het juffrou op daardie oomblik in die klas ingeloop. Juffrou het gemaak asof sy nie Anna se gedempte snikke gedurende die periode hoor nie. Na die periode het ek by Anna ingehaak en uitdagend na die ander gekyk. Die ander het onder mekaar gelag maar hulle darem nie tot verdere geweld gewend nie.

Arme Anna Klapperhaar. Sy is so genoem omdat haar lang vaal hare regtig net soos ‘n klapperhaar matras gelyk het. Sy het dit soggens net so bolangs gekam en in ‘n woeste poniestert vasgemaak. Ek glo nie sy kon dit uitborsel nie.

Die middag ry ek met my fiets na Anna se huis. Haar pa het vir die Spoorweg gewerk. Hy moes seker ‘n belangrike pos gehad het, want hulle het in ‘n groot netjiese huis so entjie weg van die gewone spoorweghuise gebly. Hoekom Anna so slordig was kan ek tot vandag nog nie verstaan nie. Haar ma het die kortste krimpilene mini’s gedra met hoëhakskoene. Die hare opgetease in vreemde haarstyle. Dit het amper soos voëlneste gelyk. Die oë was blou geverf en haar lang naels bloedrooi.

Ek het my verkyk aan die tannie. Sy het met die lang maer bene onder haar ingevou gesit en lees. Die bediende het agter die kinders aangehol en die huis probeer skoonmaak. Die tannie het by haarself geglimlag vir iets wat sy lees en ‘n behaaglike trek aan haar dun sigaret gevat. Fyntjies die as met haar lang rooi nael afgeskud. Doof en blind vir die chaos om haar.

“Kyk Anna” het ek met die deur in die huis geval. “Is dit vir jou lekker as die kinders jou terg?” Anna het opgekyk en haar kop geskud. “Nou hoekom kam jy nie jou hare ordentlik nie?” het ek gevra. Glo nie ek sal ooit werk by die diplomatieke diens aangebied word nie.

“Jys ‘n mooi meisie, hoekom kyk jy nie na jouself nie?” Anna het verbysterd na my gekyk. Niemand het nog ooit gedink sy is mooi nie. “Is” het ek gese, “jy is maer en almal wil maer wees, jys mooi bruin en jou oë is baie mooi. Maar al is mens mooi moet jy jouself versorg.”

“Al was ek die goed, ek kry dit nie uitgekam nie,” het Anna geantwoord en haar klapperkop ‘n ruk gegee. “Ek wens ek kon dit kort sny, almal het tog nou kort hare.” Ek was onmiddelik vuur en vlam. “Nou toe, gaan vra jou ma dan ons sny ons dit,“ het ek gese en opgewonde haar hand gegryp. Die tannie het nie eers opgekyk nie, net haar kop instemmend geknik.

Hare het ek nog nooit gesny voor daardie dag nie. Eers het ons haar hare gaan was. Gewas en weer gewas. Ek het nie eintlik positiewe vooruitsigte gehad nie, want die hare het regtig nes klapperhare gelyk. Ek het die nat hare met ‘n groot gesukkel in twee ponies gebind. Dit toe net bokant die rekkies afgeknip.  Ek dink dit was die eerste Chinese bob in die wêreld. Die hare was kort agter die kop afgeknip. Ons het groot oog vir mekaar gekyk en histeries begin lag. Ek dink dit was die eerste keer dat ek Anna Klapperhaar so hoor lag het. So lag-lag het ek die res van die hare kort geknip.

En toe gebeur die wonderlikste ding. Die nat kort hare word droeër. En voor ons oë begin honderde goudbruin blink krulle op Anna se kop vorm en draai. Die klapperhare lê verstrooi oor die vloer. Die krulle maak dit soveel makliker om die hare te sny. Ek draai die sagte satynkrulle om my vinger en knip dit kort. ‘n Pragtige meisie met ‘n hartvormige gesiggie en twee groot grys oë verskyn in die spieël. Anna gee die meisie een kyk en begin hartverskeurend huil. Van skok begin ek sommer saam huil. Sy klou aan my en ons snik asof ons laaste dag aangebreek het.

Die gesnik en gesnuif het tot die tannie deurgedring en sy kom aangehol. Sy steek in haar spore vas en kyk geskok na Anna. “My jirretjie, Anna Elizabeth Petronella Badenhorst is dit tog nie jy nie. Kyk net hoe fabulous lyk jy? Jou pa sal sy pellet moet uithaal....nee,nee [en sy skud die lang maer vinger met die lang rooi nael voor ons gesigte] hy sal die geweer wat hy by sy oorle pa geërf het moet uithaal...want een ding sê ek vandag vir julle…die kind is beautiful.”

‘n Nuwe dag het vir Anna aangebreek. Die ander het nog oor Anna geskinder, maar die keer omdat hulle jaloers was.