Voor op die wa-kind
Ek was defnitief ‘n voor op die wa kind. Volgens
my tannies kon ek sommer lank voor 2 al vlot praat. En hulle sal nie jok
nie...hulle is voorbeeldige kerksusters.
In graad
1 het ek sommer saam met my juffrou [Coetzee] die eerste dag skool toe gegaan.
Waarvoor moes ek bang wees...ek het haar goed geken. Sy was een van ouma se
vriendinne. Juffrou moes toe kantoor toe en vra ek moet na die klas kyk. Ek
besluit toe almal moet hulle name op die bord kom skryf. Ek het natuurlik myne
eerste geskryf. Eleen Grobler…so skuins teen die bord op. Ek het reggestaan met
juffrou se bordliniaal...en elke kind wat nie sy of haar naam kon skryf
nie...het net daar ‘ ‘n hou of twee op die hand gekry. Ek kon nie glo ‘n
6jarige kon nog nie haar/sy naam skryf nie. Die seuns was sowaar die “domste” en het ook
die hardste gehuil. Juffrou het by haar aankoms die treurige toedrag van sake
gekry. Arme Kobus de Jager [later ‘n bekende advokaat] wat snikkend voor die
bord staan en ek langs hom met die bordliniaal. Sy het haar hande in die lug
gegooi en my sommer so met die plathand ‘n hou of drie op die kaal bo-beentjies
gegee. Toe uit die klas gehol. Ek is vandag seker sy het buite gaan lag.
Ek was al ‘n groterige kind toe die pastoor een
sondag preek oor “nou is die poort en min is die wat daar ingaan” Die kerk se
voorsitter Oom Frikkie Botha was ‘n groot gawe reus van ‘n man. Die mense het
gese hy eet sommer ‘n hele skaap by homself op. As hy by die deur inkom raak
dit sommer skemer in die kerk. So staan almal na kerk buite en gesels toe my
oog oom Frikkie vang. Hy was besig om swaar teen die trappe af te loop. Net
daar onthou ek oom Pastoor se preek en net daar raak ek baie ontsteld, want ek was
baie lief vir oom Frikkie. Ek ruk benoud aan ma se arm. My stem klink helder in
die oggendlug... “Mammie, mammie, oom Frikkie gaan nooit in die hemel kom nie!”
My ma word rooi en kyk geskok na my. Sy vra nog ewe verbaas: “Hoekom se jy so?”
toe bars ek benoud los… “want hy is te vet en die poort is te nou, hy gaan nie
deur kom nie.” Nodeloos om te sê my
boudjies het gebrand en ek dink dit was onregverdig...want ek was regtig net
bang die oom is op pad warm plek toe.
Daar was ook ‘n oom in die kerk wat ‘n
plaagbeheer besigheid gehad het. Ons kinders het stilletjies vir hom ‘n bynaam
gehad wat ons nie voor die grootmense gebruik het nie. So sê ma na kerk vir my
die oom en tannie kom tee drink en ons beter ons gedra. Skree ek net daar vir
die res van die kinders wat al by die kombi wag: “julle oom Kokkeroitjie-hulle
kom tee drink en ma se julle beter julle gedra!” My arme ma was bloedrooi in
die gesig. Die tannie het my aangegluur, haar handsak onder die arm vasgeknyp,
die oom aan die arm gegryp en reguit na hulle motor gestap. Ek moes stert
tussen die bene gaan jammer sê. Die oom het agterna lekker daaroor gelag. Almal
het hom toe oom Kokkeroitjie begin noem.
Tot môre
Eleen
No comments:
Post a Comment