Wednesday, July 18, 2012

Verlore drome

Verlore drome
So sit ek en ma een nag in die hospitaal by my siek kind se bed. Ma sit met die mooi hande ineengestrengel op haar skoot. Uiterlik die toonbeeld van kalmte. Die brandende oë vasgenael op die siek kind se rooi van die koors gesiggie vertel ‘n ander storie.
Ek kyk na die tyd en sien dat ek oor ‘n paar uur sal moet gaan werk. Asof ma my gedagtes gelees het êe sy: “Jy moet al amper gaan werk.” Dan kyk sy na my met daai sagte bruin oë en sê: “Ek sou ook as ek kon kies bly werk het na my troue.” Ek kyk met algehele verstomming na ma. “Ek was mos voor my troue ‘n boekhouer by die Jood se meule.” sê sy dan. “Maar pa wou nie hê ek moes na ons troue werk nie, en toe het ek julle kinders so na aanmekaar gehad.”
Vir ‘n hele ruk sit ek net daar en kyk na haar. Ek sien die mooi hande wat kan bak en kook. Wasgoed was en huis skoonmaak. Skoolboeke oortrek. Knope vasmaak en skoene politeer. Wat soggens as die hele huis nog slaap orrel speel en saamgevou word in gebed. Hare in netjiese vlegsels of poniesterte wat doer staan kan bind. Hande wat salf aansmeer en pleisters plak. ‘n Hartseer kind vertroostend teen haar bors  vasdruk. Hande wat net sag aan jou raak as jy hartseer is. Hande wat die mooiste rokke kon maak en warm truie kon brei. Ek dink nie daar is iets wat daardie hande nie kon doen nie.
Ek dink met algehele verstomming daaraan dat ek nog nooit ooit gewonder het of my ma al ooit gewerk het nie. Of sy nie ook ideale en drome gehad het nie. Sy was vreeslik slim. Het sommer van standerd vier na standerd ses gegaan. ‘n Fantastiese wiskundige brein gehad. Haar susters het altyd vertel dat sy die slimste van hulle elf susters was. Sy was maar net altyd daar...24 uur van die dag.
Ek sien haar in die kombuis voor die wasbak staan. ‘n Vêraf uitdrukking in die groen-bruin oë. Was dit dalk toe dat sy gedroom het hoe sy elke dag haar in haar motor klim om te gaan werk. Of miskien soggens as sy die blink hare sommer in ‘n poniestert kam. Het sy dan gedink hoe sy haar hare sou krul totdat dit sag en blink oor haar skouers hang, soos wat sy sondae kerk toe gemaak het. Of as sy die huisrokkie oor haar kop trek. Het sy haar verbeel sy trek een van die mooi kerkpakkies in haar kas aan. En in plaas van die plat gemaklike skoene, ‘n paar van haar mooi hakkieskoene. As pa sy salaris vir haar bring en sy eerste vir die huis sorg en dan vir ons en nooit vir haarself nie. Was dit toe dat sy vir ‘n oomblik gedroom het hoe sy haar eie salaris kry waarmee sy haarself kon bederf sonder om skuldig te voel.
Mammie ek is so jammer dat ek nooit besef het ma het ook drome en ideale nie. Maar vandag wil ek dankie sê omdat jy dit alles opgegee het vir ons. Dit was wonderlik om te weet vanmiddag as ek van die skool af kom is mammie daar. Om as ek by die hek kom al die heerlike reuk van sop of varsgebakte pannekoek of bruin uitgeryste vetkoek te kry. Om verwelkom te word met daai mooi glimlag wat al die laste sommer laat wegval het. As jy jou tas neersit...weet jy..eks by die huis...ma is hier en alles is reg.
Dankie dat ma elke dag daar was om my te vorm en te maak in die mens wat ek is. Dat die insette in my lewe so belangrik was dat ek selfs vandag nog wonder: “wat sou ma gesê en gedoen het” as ek in ‘n moeilike situasie kom.
En moekie jy was die beste boekhouer in die pos waar God jou gesit het. Want elke moeilike som wat die lewe in my pad gegooi het, het ma my gehelp ontrafel en uitwerk, die hoeke en grade uitgemeet, opgetel en afgetrek, gemaal en gedeel, todat ek kon verstaan waarvoor X staan. Die krediet en debietkante van die joernale het met ma se wysheid in plek geval. Totdat my proefbalans ten einde laaste geklop het. Want aan die bestuur van ons lewenskantoor was die beste boekhouer wat jy ooit sou kry.
Lief vir jou moeder en sal jou altyd mis.

No comments:

Post a Comment