Monday, July 9, 2012

Leen Briefies


Leen briefies

My ma was in die kombuis besig toe die twee maer dogtertjies aanklop. Die een skop-skop skaam met haar kaal bruingebrande voetjie na iets denkbeeldigs op die stoep. Die ander een hou sonder om te groet ‘n opgevoude papier na my ma uit. Sommer uit ‘n skool oefenboek geskeur. Voorop staan “Driekie Privaat” Ma nooi die twee kinders in en hulle drentel agter haar aan kombuis toe. Staan leunend teen die tafel, groot oog vol afwagting, na ma en kyk.

Ma vou die briefie oop. “Liefste Driekie, dit is more sussie se verjaarsdag. Peet het nog nie gepay nie. Ek wil vreeslik graag vir sussie ‘n koek bak. Jy weet hoe dit met die kinders is. Hulle kan nie begryp hulle pa het nog nie gepay nie. Driekie jy is die enigste vriendin na wie ek my in my nood kan wend. Kan jy as jy dit in jou hart kan vind asseblief vir my meel, eiers, bakpoeier, botter, vanilla essence, icing sugar, suiker en ‘n hartkoekpan leen. Ek bedank jou uit die diepte van ‘n moederhart wat net vir haar kind ‘n koek vir haar verjaarsdag wil bak. God seen jou en jou huis Driekie. Baie liefde jou altyd dankbare vriendin Rina.”

My ma het met haar oop hart dadelik al die goedjies in ‘n boksie gepak. Nie vanilla enssence nie maar cocoa sodat tannie Rina ‘n lekker tjoklit koek kon bak. In die laaie gesoek totdat sy 8 kersies vir die koek gekry het. ‘n Pakkie coolaid is ook ingepak. Wat sal koek dan nou wees sonder ‘n ou drink dingetjie? Die sussie kon hulle verligting en opgewondenheid nie wegsteek nie. “Haai dankie antie Driekie,” is ‘n paar keer herhaal, voor hulle soos hasies die pad afgehol het. Die boksie met sy kosbare inhoud styf vasgeknyp.

Na my ma oorlede is het ek nog baie sulke briefies ontdek. “Liefste Driekie ek staan weer met my hande bak voor jou. Die kinders het weke laas ‘n groentetjie oor hulle lippe gehad. Ek het besluit om maar vandag die werfhaan te slag. Die ding is nou net so; ek het geen dooie duit op my naam nie. Peet het alweer ons laaste paar pennies uitgesuip. Driekie wanneer gaan die beker wat ek elke dag moet drink vol wees? Kan jy asseblief as jy dit in jou hart kan vind vir my bietjie ertappels, ‘n ui, bietjie bone en dalk ‘n stukkie pampoen leen. Ai en dalk so koppietjie rys, as dit moontlik is.  ‘n Moederhart kan nie rus as sy sien hoe verhonger haar kinders nie. God seen jou en jou huis. Met ‘n dankbare hart. Jou vriendin Rina

Tannie Rina het baie swaar gekry. Haar man het al die geld uitgedrink. Sy het vreeslik hard gepraat. Alles wat in haar hart was het by haar mond uitgekom. Maar meer opregter sou jy ver soek om te kry.

Ek weet vir ‘n feit my ma sou nie die kindertjies lee hande huistoe gestuur het nie. Ek kan sommer sien hoe haar sagte oë blink. Hoe haar mooi hande sorgsaam die goedjies inpak. Die ertappels, bone, pampoen en koppietjie rys. Hoe sy ‘n pakkie rooi en groen jellie ook uithaal en inpak. En dan ‘n paar lepels vla afmeet. ‘n Botteltjie melk vir die vla. Sodat die uitgehongerde kindertjies met die oë te groot in die maer gesiggies n koningsmaal kon geniet.

Want my ma het geglo wat in die bybel staan:”As jou broer een myl van jou afdwing stap twee saam” So as jou vriendin vir jou groente vra om haar honger kindertjies te voed…stuur die groente maar moenie die rooi en groen jellie en die dik romerige vla vergeet nie. En as jy dit in jou hart kan vind stuur maar ‘n pakkie coolaid saam vir later. God seen jou en jou huis…

No comments:

Post a Comment