Friday, July 6, 2012

Padkos


Padkos

Ons het gereeld by my tannie-hulle [my pa se suster] in Tweefontein naby Sabie gaan kuier. Dit is ‘n dorpie waar al die werkers van Bosbou gewoon het. Dit is een van die lekkerste van die lekker tye wat ek onthou.

Weke voor ons sou ry het my ma al deur ons kaste gegaan. Alle klere wat nog goed was maar te klein vir ons is eenkant gesit. Saans het sy gebukkend oor die Singer gesit en getrap-trap om die nuwe rokkies vir die Stroh dogtertjies klaar te kry.

Houers vol soetkoekies, gemmerkoekies en koeksusters is gebak. Die dag voor ons vertrek was die kombuis gevul met die geure van hoenderboudjies, mincebolletjies, gekookte eiers en heerlike broodjies met kaas en tamatie. Die warmbottels het gereed gestaan om die volgende oggend net gou gevul te word.

Die volgende oggend donker het ons vaak-vaak maar baie opgewonde vertrek. Ons kinders het gewoonlik dadelik weer weggedommel droomland toe. Gewoonlik het die son net sy kop uitgesteek as pa by Watervalboven by die tafeltjies langs die pad stil gehou het. Die kosmandjie is dadelik afgetel en ons het heerlik aan die padkos gesmul. Tot vandag is ‘n sagte tamatiebroodjie vir my ‘n heerlikheid. Pa het dan ook weer vir ons die storie vertel van die bruid wat snags in haar wit trourok by die waterval dwaal.

Wanneer ons by ou Joe, die groot klip langs die pad verby is het ons geweet meer as helfte van die pad is verby. As ons Sabie binnery het almal penorent gesit en die pad dopgehou. Deur die dorpie, oor die rivier en dan voor ons was Tweefontein.

My pa het voor die bosbouhuis stil gehou. Ma het vir hom gekyk en sag geglimlag. Nog voor ons kon uitklim het die voordeur oopgevlieg en my jongste nefie [Dolfie] het uitgehardloop asof ‘n klomp jagters op sy spoor was. Sy vreeslike stem het glad nie by sy klein maer lyfie gepas nie. “Ma, auntie Driekie hulle is hier. Auntie Driekie, Auntie Driekie wat het auntie vir ons saamgebring.” Dan het hy my ma amper omgespring soos hy haar omhels het. Die ander Strohtjies het vaak vaak uitgekom om ons te groet. Tannie Johanna met haar swart krulle waarin ‘n kam gerus het, het ons met trane in haar mooi blou oe verwelkom.

Die padkos is eerste afgedra en dadelik op die groot geskropte kombuistafel oopgemaak. My tannie het groot bekers soet warm koffie gemaak. Almal het gelyk gepraat en geeët en gepraat en geeët. Die niggies en nefies het afwagtend na my ma gekyk. Sy’t met haar sagte blik na hulle gekyk en my broers gestuur om die kar af te laai. Die persente is aan elke kind gegee. Nuwe rokkies is dadelik aangepas en sommer aangehou. Die niggies het voor my ma kom ronddraai. Die ou en nuwe rokkies het ewe veel aftrek gekry.

Ons kinders het dadelik die strate ingevaar om ou maatjies te gaan opsoek. Al die kinders van die dorpie het saam gespeel in die stofstrate. Ons het ure in die woude om die dorpie gaan stap. Ons verlustig in die skemer donker van die bos en die geur van dennenaalde.

My tannie het vir middagete yslike groot bruin vetkoeke gebak. My rooikop broer het die eerste en grootste vetkoek gekry. Hy het net soos my nefie gelyk wat op 16 in ‘n motorongeluk oorlede is. My tannie het self die vetkoek vir hom aangegee. Dan terwyl sy die ander bak met genot gekyk hoe my broer se tande in die lekkerte wegsink. Dan het sy vir ma gekyk en geglimlag maar haar oë was nat en blink. Haar gesig het vertrek asof sy iewers ‘n vreeslike pyn het. My ma het agter haar gaan staan en my tannie het vir ‘n oomblik teen haar aangeleun.

Saans is ons kinders vroeg kamers toe gestuur. Groot krismisbeddens vir die meisies in een kamer en seuns in die ander kamer is opgemaak. Daar het ons gelê en giggel en gesels. My broers het die kans gebruik om die by ons huis absoluut verbode, Ruiter in Swart, Tessa en die Swart Luiperd te lees.
Dan het my oom sy kitaar uitgehaal. Die note het sag soos ‘n somerreen begin val. Ma en pa het begin sing. Ek kan hulle nou nog hoor. Rock of Ages cleft for me…let me hide myself in Thee…Dan sing my siel, my Here, hoe groot is U. Sal die kring daarbo volmaak wees....Ek kan hoor my Heiland roep my...Pa se stem soos warm fluweel en ma se lieflike altstem. Dan het die inwoners van die dorpie voor die hek kom staan om deur die oop vensters verwonderd na die hemelse musiek te kom luister. En miskien sou die sangers dalk kon skouers skuur met beroemde kunstenaars…so groot was hul talent. Maar nerens in enige konsertsaal in die wereld sou jy weer sulke musiek hoor nie. Sou die stemme en die woorde jou so aangryp en veertig jaar later nog so helder in jou siel en gedagtes weerklink nie.  Die hemelse aanbidding die trane uit jou oë laat loop soos die musiek wat daardie aand gehoor is nie.
In ‘n eenvoudige sitkamer met afgeleefde meubels in ‘n bosbouhuis op Tweefontein.

No comments:

Post a Comment