Sunday, August 5, 2012

Die onwelkome bedmaat


Die onwelkome bedmaat

Jare gelede het ons aan ons huis laat werk.  Op ons vriende Katinka en Daan se uitnodiging trek ons toe die groot karavaan onder ‘n yslike maroelaboom, op hul plot buite Pietersburg.

Ons het baie lekker gebly. Die aande was soel en warm. Hulle het my leer veerpyltjie speel en ons het tot in die oggendure gesit en kaart speel. Honderde koppies koffie gedrink, baie gelag en meer geeët as wat ons moes.

Een nag laat ,na ek weer verloor het met die kaartspelery, besluit ek om maar solank te gaan slaap. Dit was nog in die veilige dae. Ek stap sonder vrees onder maanlig na die karavaan onder die boom. Sonder om die ligte aan te skakel, trek ek my japon uit en klim vaak in die bed. Dis toe ek op my sy draai dat ek besef hier is fout...groot fout.

Ek weet nie of ek hom eerste geruik het of gevoel het nie. Maar die volgende oomblik besef ek: hier is iemand in my bed. Toe die iemand in die donker opspring en ek sien hier kom die arms.toe gil ek. My oë was nou gewoond aan die donker. Ek en ‘n donker gedaante kyk mekaar in die oë. Ek gil en hy skree. ‘n Onaardse geskree wat die dooies sou laat opstaan. ‘n Geskree wat ek dink nou nog oor die vlaktes weerklink. Sy geskree spoor my stembande tot hoër hoogtes aan...en ek gil!!!

Toe breek chaos los. Ek spring met een haal uit die bed. Die yslike Perinese berghond wat buite le en slaap het, storm met ‘n geblaf en gegrom in die karavaan in. Die swart gedaante probeer by die hond verby kom. Met ‘n onaardse gegrom duik hy die indringer plat en gaan staan oor hom. Die het nou so groot geskrik hy kyk net met rollende oë na die yslike kwylende bek hier bo sy gesig. Skoon lam van die skrik. As hy net ‘n beweging maak, grom die hond iets vreesliks. Met lam bene staan ek net en kyk. Nou skoon stil van skok.

Burt en die vriende storm die karavaan in. Gaan staan eers stil van verbasing. En toe gil my vriendin. Sy druk haar hande langs haar gesig en gil...!!Van skone skok oor haar angswekkende gegil, begin ek ook weer gil. Ons kyk mekaar met groot oë aan en gil. Ek staan vasgedruk in die hoekie want die hond en die indringer versper die pad. Burt trek my sonder seremonie tot by hulle en gee my ‘n paar rukke sodat ek kan kalmeer. Daan druk Katinka se mond toe. Sy vererg haar so daaroor dat sy skoon vergeet om te skree.

Burt en Daan maak die ou op ‘n stoel sit en hou oor hom wag. Die telefoon is buite werking en ek en Katinka jaag teen ‘n vreeslik spoed dorp toe. In die kar kyk ons met groot oë na mekaar en snik hardop. Gee mekaar se hande ‘n drukkie asof ons wil sê: wees sterk vriendin, ons sal deur die vreeslike ding kom.

Die arme konstabel aan diens wou seker agterna uit die mag bedank. Hy het by die deur gestaan toe ons instorm. Ons gryp hom aan die arm. Terwyl ons altwee gelyk praat trek ons hom buite toe. Hy moet nou op die daad die skelm kom vang. Hy beur verskrik terug. Probeer praat maar kry nie ‘n woord in deur ons deurmekaar gepraat nie. Gelukkig vir hom en vir ons verskyn die Sersant aan diens. Hy het seker voorheen kennis van histeriese vrouens gehad, want binne sekondes staan ons ewe kalm en vertel die storie. Hy bekyk ons ewe ernstig, vra of iemand beseer is, of daar enige bloed is? Ons skud ons koppe. Hy draai om en vroetel met ‘n klompie leers. Maar eks seker sy skouers het geskud soos hy lag.

Die sersant ry agter ons aan plot toe. Daar aangekom sit my bedmaat nog ewe op die stoel. Burt en Daan wakende oor hom. Ek sien hy het ‘n snaakse grys uniform aan. Dis toe die sersant sy hand wil vasboei om hom weg te vat toe ek dit sien: ‘n wit bandjie om sy gewrig. Ek wys dit vir die sersant. Hy lig daarop met sy flits. Daar staan dit toe. Sy naam en pasient nommer en die naam van die Psigiatriese Hospitaal waaruit hy ontsnap het.

Wat sou gebeur het as die hond nie ingestorm het nie, weet ek nie. Eks maar net baie dankbaar hy het.


No comments:

Post a Comment