‘n “Gebankery”
My goeie vriendin Sonja Venter se pa was die
Weermag-attache in Amerika hier in die jare sewentigs. Omdat sy en haar sus nie
kon aanpas in die Amerikaanse skole nie, is hulle in die koshuis gesit op haar
ma se grootword dorp. So kon hulle naweke by hulle ouma oorbly.
Ek en sy was reeds van kleinsaf maatjies. Omdat ek
‘n jaar ouer was as sy was ek altyd die “baas” van al ons speletjies...Of dalk
was ek maar net die baserige soort. Ewenwel ons was baie lief vir skool speel.
Ek was die juffrou en sy die leerling. Sy het altyd pak gekry omdat sy nie haar
werk reg gedoen het nie. Hoe ek geweet het dit is nie reg sal ek nie weet nie.
Want ons was nog baie klein en het van somme en lees niks geweet nie.
Ons afrikaanse juffrou in graad 11 was ‘n juffrou
uit die skool vir hekserige-juffrouens. Sy was ‘n lang baie skraal vrou [vandag
besef ek sy was baie aantreklik]Kort blonde pennetjie hare, nog lank voor dit
in die mode was. Yskoue blou oë wat deur jou gekyk het. Wat elke verskoning wat
jy oor laksheid wou uiter in jou keel laat vassteek het. Dan het jy stotterend voor
haar gestaan. Haar lippe was permanent saam gepers.
Die eerste twee periodes op ‘n maandag het aan haar
behoort. En wat dit met Sonja was weet ek nie, maar haar afrikaanse huiswerk was
so gereeld soos klokslag nie gedoen nie. Dan het sy tranerig en rooi in die
gesig gestaan ek luister hoe juffrou haar slegsê. En dit was geen grap nie. As
sy met jou klaar was sou jy gedink het dit is ‘n kompliment as iemand jou met
slangbollie vergelyk.
Ek het haar gereeld sondae koshuis toe gebel. “Doen
tog net jou huiswerk”, sou ek maan. Anners is jy weer môre in die moeilikheid
by ou de Witt. “Oraait, okay tog, ek sal,” sou sy blatant lieg. Want sowaar as
wat die son die oggend oor ons koppe opgekom het. Haar huiswerk was nie gedoen
nie.
Die maandag word ‘n briefie vir my aangegee in die
saal. Ek het gesien toe sy ‘n paar rye voor my die briefie begin aangee. My
moed het in my skoene gesak. Ek het asof gehipnotiseer gekyk hoe die briefie
deur vier rye kinders aangegee word. Toe die briefie op my skoot oopgemaak,
sonder om my oë van die hoof op die verhoog af te haal. “My homies nie gedoen.
Eks dood! Ons moet slip!” Ek het my asem hoorbaar ingetrek. Die hoof het
stilgebly en gevra of ek ‘n probleem het. ”Nee meneer, ek wou net nies, en ek
was bang ek pla meneer,” het ek sedig gesê. Die hele saal het gelag en meneer
se lippe het effens getrek.
Ek het buite die saal vir haar gewag. Sy was bleek
van vrees. Juffrou het belowe as daai huiswerk weer nie gedoen is nie, gaan sy
reguit hoof toe. En dit was geen grap nie. “Hoekom doen jy nie net die huiswerk
nie,” het ek vies gevra. As hulle ons vang...is dit klaar met ons. Maar ek het
haar al klaar jammer gekry. Die bruin oë was vol trane en haar mooi lippies het
gebewe. Haar “ek verlang vreeslik na my ma” en die trane wat oor haar wange
begin rol het het die knoop deurgehaak.
Ons het ons tasse gegryp en tussen die honderde
kinders verdwyn. Op die derde verdieping het ons met tasse en al in die
badkamers ingegaan. Ons hande gewas en hare gekam tot die laaste kind klas toe
is. Toe in die heel laaste toilet gaan sit. Hoe lank kan ‘n uur nou ook wees? Na
‘n paar minute het ons begin ontspan. Harder as gewoonlik gelag vir ons eie
simpel grappies.
Die volgende oomblik soos een man stil gebly. Met
groot veskrikte oë na mekaar gekyk. Hoëhakskoen-voetstappe het pas die
badkamers betree. Klik-klak, klik-klak. En ons ken daai voetstappe asof dit ons
eie was. Dit was juffrou. Ons was lam van skrik. Een vir een het sy die deure oopgemaak.
Op haar tyd; asof sy spesifiek die tyd opsy gesit het daarvoor.
Ons het altwee bo-op die toilet geklim met ons
tasse...[wonder vandag hoe ons dit gedoen het] Juffrou het voor ons deur tot stilstand
gekom. Aan die deur gedruk. Toe geklop en gevra: ”Is hier iemand in?” ‘n Paar
keer die vraag herhaal. Ons het so stil soos muise gesit. Definitief breinskade
opgedoen soos ons asem opgehou het.
Sonja het desperaat beduie ek moet antwoord en ek
het beduie: ”nee antwoord jy.” Nee, antwoord jy,” het sy beduie. Maar nie een
van ons se stembande wou werk nie. Ons het verlig gehoor hoe juffrou die stryd
gewonne gee en wegstap.
Ons het afgeklim en weerskante op die vloer gaan sit. Die ergste skrik was
verby. Ons het weer begin giggel. Ek was besig om ‘n taai wilsontoffie in twee
te probeer deel met haar naelskertjie, {onder groot gelag}...toe ek die
ongemaklike gevoel kry dat iemand vir my kyk. Ek kyk op..,vas in juffrou se
koue grys oë. Sy het seker haar skoene uitgetrek...en kyk nou oor die muur na
ons twee af. Sonja lag nog te lekker. Ek wou haar waarsku maar my stembande was
verlam. Ek kon voel hoe my wange brand. Sonja lag nog en sê: ”wat gaan aan, het
jy ‘n spook gesien,” toe sy opkyk en die “spook” sien. Sy word doodbleek. Die
sweet perel skielik op haar bo-lip, en toe..... word sy naar. Bo-oor haar en
oor my en ons tasse en die toffie wat ek van skone skok op die vloer laat val
het.
Jffrou het geduldig gestaan en wag tot ons weer op
‘n manier “padwaardig” was. Toe sonder ‘n woord beduie ons moet haar volg. Deur
die hele groot skool gestap met ons twee skoorvoetend agterna. Die kinders het
ons nuuskierig bekyk. Die onderwysers het hulle koppe geskud. My broer het in
een van die klasse gesit. Met sy vingers beduie dat my alie gaan brand. Ek het
vir hom tong uitgesteek en skewe oë getrek...op die presiese oomblik dat
juffrou omkyk. Dit het gelyk asof elke haar nog meer regop spring en haar lippe
het verdwyn soos sy dit vasgeknyp het.
Die einde van die saak was die hoof se kantoor. Ons
het aan die oorkant van sy tafel gesit. Gesnik dat jy ons wie weet waar kon
hoor en ons neuse kliphard geblaas. Hy was ons darem genadig. Ek dink hy wou
ons net so gou moontlik uit die kantoor kry. Want ons het nie baie lekker
geruik nie. Ek kon huistoe gaan en sy koshuis toe vir skoon klere. Ek is maar
liewer saam met haar koshuis toe. Geklee in een van haar rokke later terug
skooltoe.
Die middag by die huis moes ek nog by ma ook
deurloop, want my boetie was te bly om die nuus te kon oordra, klikbek wat hy
was. Later sou ons hom wel laat boet vir sy daad!
Ons is tot heel voor in die klas geskuif. Juffrou
het ons toetse en opstelle met ‘n vergrootglas deurgegaan. Ons het gedink graad
11, Afrikaans gaan nooit tot ‘n einde kom nie. Gelukkig vir ons het die stoute
Johnny ‘n kaal skets van ‘n vrou gemaak en agter teen die muur geplak. Die vrou
se hare het stokkies op haar kop gestaan. Die oë was blou omkring. Die bene was
lank en maer. Sy het niks gesê nie, maar Johnny moes voor op my plek kom sit,
en ja ek sou nie sê sy lewe was daarna te maklik nie.
No comments:
Post a Comment