Tuesday, August 7, 2012

Gaste vir ete (1972)


Gaste vir ete [1972]

“Julle moenie omkrap nie,” sê ma een vrydagmiddag en vervolg terwyl sy met die potte besig bly, “ons kry mense vir ete.” My moed sak in my skoene. Dit  gaan nou weer net ‘n ekstra gewerkery afgee. Nog voor ek kan vra wie die gaste is, sê ma so half terloop...”O dit is pastoor Dysan-hulle.”

Ek verstik in my koffie en ma klop my eers op die rug. Toe ek weer asem kan kry sê ek geskok: “Nooit...... mammie jok seker!”  Ma is ‘n sagte vrou maar moenie te veel met haar lol nie. “Kyk dat die sitkamer netjies is, en kom dek tafel, en hoekom sal ek jok?” sê ma, kalm soos altyd, maar die kyk in die bruin oë, is waarskuwing genoeg vir my om maar eerder stil te bly. My broer trek vir my groot oë en trek sy skouers op. Maak hom uit die voete voor ma vir hom ook iets kan uitdink om te doen,

Ek vee so hier en daar met die stoflap oor die meubels. Ek dink terug aan die dag toe ons Pastoor Dysan en sy familie ontmoet het. My ouers het in hulle vrye tyd sendingwerk gedoen onder die “swart en bruin mense.”  “Gee jou een raai wat ons alweer op die saterdag-middag moet doen?” het my broer dramaties gevra. My moed het in my skoene gesak. “Ek weet nie wat jy gaan doen nie, maar ek gaan jeug toe by die kerk.” het ek vermakerig gesê.

“Slegte nuus ou Lena kepena...jy gaan nie. Pa het gesê almal...en ek bedoel ons almal...gaan vanmiddag traktaatjies by die nuwe “kleurling-gebied” uitdeel en sommer die nuwe “kleuring” pastoor ontmoet.” Ek het nie eers probeer teestribbel nie...teenstribbel is nie geduld nie. So het ons agt kinders en pa en ma die saterdagmiddag in die stofstrate loop en traktaatjies uitdeel. Die mense het hulle verkyk aan ons. Ons het mooi geglimlag en ieder en ‘n elk vriendelik gegroet. Ma het sakke vetkoek wat sy gebak het aan die kindertjies uitgedeel wat dit verslind het.

Die pastoor en sy gesin het in een van die nuut geboude huisies gewoon. Die oom het ons met ‘n stewige handdruk gegroet. Later sou ek hoor hy is ‘n man met 3 grade en was ‘n bestuurder by ‘n fabriek in die Kaap en die tannie ‘n onderwyseres. Nou het hulle sonder ‘n salaries die werk van die Meester gedoen.

Die Dysan-kinders het teen een muur van die piepklein, pynlike netjiese sitkamertjie gestaan..en ons teen die ander. Ons het mekaar wantrouerig beloer. Die klein skraal tannie het oor haar skilpaddop-bril vir haar kinders gekyk.  “Ma wat wou Regina,” het sy vererg gesê, “vat vir Eileen en gaan wys ha jou kamer” “Julle ander kinders kan almal buite gaan speel. Ek bring koeldrank.

Regina en haar sussie se kamer was propvol met ‘n dubbelbunk-bed en ‘n hangkas. Sy het ‘n klein radio uit die kas gehaal en aangeskakel. Ons bene en koppe het outomaties op die maat van die musiek begin skud en swaai. Ons het begin gesels...twee 15jariges…so verskillend en tog so dieselfde. Die een wit en die ander bruin. Gepraat oor klere, die skool, ouers wat ons nie verstaan nie...en natuurlik..seuns. Sy het my vertel haar nefie is niemand anders as Richard J Smith nie. “Nooit, Regina, hoe groovy is dit.” het ek grootoog gesê.  Sy het ‘n ongelooflike sin vir humor gehad en ons het teen mekaar gelê van die lag. Skelm vir my ‘n paar danspassies gewys. Haar oë dramaties groot gerek, “Oe as die pastoor my nou sien.is dit tiekets met my,” het sy gesê, maar so asof sy nie regtig bang was nie.

Die tannie het ons kom roep en kon sweer ek sien verligting in die groot bruin oë toe sy ons so laggend aangtref. ‘n Feesmaal het vir ons gewag. Rotis met kerrie en gewone vleis. Bruin gebraaide koeksiters in ‘n vreemde sous...ek kan nie eers als onthou nie. Al wat ek weet ons het ons trommeldik geeët. So dat my ma naderhand vir my broers moes groot-oë trek. Ek het skelm twee koeksisters in ‘n servet toegedraai en in my sak gesteek. Toe ek opkyk het die tannie glimlaggend vir my sit en kyk. Ek het bloedrooi gebloos, maar sy het net een groot bruin oog vir my geknip.

So het ons deel van mekaar se lewens geword. En nou kom hulle vanaand hier eet. Een van my vriende kom later die middag daar aan op sy fiets. Ons staan sommer by die hek en gesels. “Kom jy vanaand jeug toe?” vra hy. “Nee ons kry mense vir ete,” sê ek sommer weer vies. “Wie ?” vra hy en balanseer op sy fiets. “Ag sommer mense,”sê ek. “Komaan, wat gaan met jou aan, is dit nou dalk ‘n geheim of wat, wie is die mense?” hou hy aan.

Ek kyk na hom, trek my hele 5vt lyfie regop en lig my ken parmantig. “Nouja as jy moet weet, dis ‘n pastoor en sy gesin,” en na ‘n oomblik se wyfeling se ek sag, so asof ek bang is iemand hoor,” hulle is nie wit mense nie, hulle is bruin mense.”

“Jy flippen lieg seker,” sê hy geskok en se dan dood ernstig:” Dis teen die wet hoor, jou pa gaan in die tjoekie beland. Ek weet! My oom is in die polisie. Net verlede week het ek gehoor hy vertel vir my pa van die man wat hulle in die tjoekie gegooi het, oor dieselfde storie. Mens mag net wit mense nooi om vir jou te kom kuier.” Hy skop-skop teen die klippies, sê dan: “Shit, dit is nou ‘n helse gemors. Ek is bly eks nie jy nie.”

Ek voel nou bang. My hart begin vinnig klop en my ore suis. Wat as hulle my pa in die tronk gooi? My vriend kyk my met groot ernstige oë aan. “Miskien gooi hulle julle nog almal in die tronk.” Ek word kwaad, juis omdat ek nou so bang is. “Moenie simpel wees nie, kinders kan nie tronk toe gaan nie. En hoor hier, my pa sal niks oorkom nie. Dis vir die kerk en dan mag mens sulke mense nooi. Ek het gehoor toe die grootmense praat. Kry liewer jou ry. Ek moet my ma gaan help.” Ek kyk hom nors en onvriendelik aan. In my hart is ek baie kwaad vir my ma. Gaan die ete nou veroorsaak dat ek en my maat van baie jare nou kwaaivriende word. My oë brand en ek sluk die trane swaar weg.

Ons kyk mekaar ‘n hele rukkie stip in stilte aan. Hy swaai sy fiets vererg om en daar gaan hy. In die ry skree hy nog:” Laat weet maar as ek met die kettie vir jou moet kom peanuts deur die tralies inskiet.” Ek skree terug: “Ja en hardloop en gaan vertel nou vir die hele wereld. Klikkie klikkie klikbek, val van die trap, breek jou nek. Se vir jou ma dis ek.” Toe ek opkyk staan my ma op die stoep. Vadoek in die hand. Sy sê net niks, maar die uitdrukking op haar gesig spreek boekdele.

Die hemel het nie op ons geval nie. Die polisie het nie my pa kom vang of ons kinders in die kindertronk gegooi nie. Ons het tot laataand heerlik saam met oom en tannie Dysan en hul goed-gemanierde kinders gekuier. Die oom het ons laat skater van die lag met al die staaltjies oor die Kaap se mense. Die Dysan-familie en ons was vir jare vriende. Oom Dysan is jare later omgery deur ‘n dronk-bestuurder wat oor ‘n rooi robot gery het.
Ma was reg...al het ons verskillend gelyk...was ons maar dieselfde.

No comments:

Post a Comment