Friday, June 29, 2012

Die Wonderwerk


Die Wonderwerk

Hy het twee dae voor die kersvakansie by ons begin werk. Aanbeveel deur een van ons

getrouste werkers. Skaars so hoog soos ‘n tienjarige kind, maar met die deursettings vermoe van ‘n reus.  “Nee meneer ekt vir jare en jare die busse gedryf Moria toe; allie pad van George tot in die Transvaal. Vra enige een of hulle “James Visser” ken en meneer sal hoor. Die later kenmerkende kekkel-laggie gelag. So het hy deel van ons lewens geword.



Die 5 Blaesertjies was mal oor hom. Hulle het hom om hulle pinkies gedraai en hy sou deur die vuur vir hulle loop. Was menige dag in die moeilikheid omdat hy eers allerhande draaie met hulle na skool moes gaan ry. Hy het ook nie geskroom om hulle kort te vat [self later as volwassenes] as hy dink hulle is verkeerd nie. Daar was nog nooit iemand wat so presies geweet het watse onderlaag, maskara, naellak of shampoe ek gebruik nie.



James het ‘n hele wonderpot vol stories gehad om te vertel. So vertel hy my eendag die volgende: Mam weet my ou vader was ‘n vreeslike moeilike man. Als was ‘n sonne. Ons kon nou wraggies nie verkeerd sit nie dan brand onse gatte net daar.



So kom nooi my neef my en my broer toe om te gaan dans. Ek vra hom toe of hy mal is, want as die ou man ons vang is ons so goed soos kinnertjie dood. Maar my neef hou aan en aan. Die prentjie wat hy skilder is so mooi en dit klink so lekker dat ek naderhand nie kan wag om daar te kom nie. Toe ek vra hoe kom ons daar en hulle se oge draai gelyk na waar my pa se ou bakkie staan sluk ek amper my tong in. Julle het seker julle se breins iewers verloor se ek vir hulle. Maar hulle bly net na my kyk en dan na die bakkie. En ek weet die enigste manier hoe ek respekte van die manne gaan kry is as ek saamspeel. Ek weet ook dat as my pa ons vang my lewe op die ou aarde verby is.



So wag ons  tot die ou man se gesnork amper die dak aflig, toe stoot ons die bakkie stilletjies en biddende uit die jaart uit en daar gaat ons. Ons park toe die bakkie so voor die deur waar ons dit uit die saal kan dophou. Mam en twaalfuur stap ons lekker warm van die goedkoop wyn bakkie toe.  Ek hoor my broer se benoude gil en mam toe ek sien wat hy sien toe raak ek yskoud en warm en yskoud en net daar nugter. Want daar op die bestuurskant se deur sit ‘n yslike duik. Ek begin net daar soos ‘n kind te kerm. En ek weet James Visser jou lewe is verby..



Mam net daar onthou ek van my ander neef daar naby wat by ‘n panelbeaters werk. Ons gaan jaag hom uit die bed. Mam dit was ‘n vreeslike nag. Ek wil nie eers daaraan dink nie wat nog daarvan praat. Maar daarie oggend toe die son net net sy kop oor die berge wou uitsteek park ons die bakkie op sy plek onder die boom. So reg soos ons hom daar gekry het. Ons spring sommer met klere en al innie bed want ons hoor my pa roer in sy kamer.



Mam..en ons het skaars onse le gekry toe hoor ons die ouman se bulderende stem. Vrou-vrou roep hy na my ma...kom kyk..kom kyk...hiet ‘n moerse wonnerwerk gebeur. Gistraand het ek myse bakkie ingeduik onner die boom gepark en toe ek nou van die lavatrie af daar verby loop...sal ek sien da staan die bakkie...vrou jy sallit nie glo nie...maar heellemal reg...sonner die duik...

No comments:

Post a Comment