Monday, June 11, 2012

Die dag toe ek slim geword het...

Die dag toe ek slim geword het...
Komende uit die era toe kinders gesien en nie gehoor is nie, het ek op die brose ouderdom van amper 12 nog nie geweet waar babas vandaan kom nie.
So het ek en my boetie my maatjie en haar ma in die dorp raak geloop. Die tannie het ewe vriendelik gese: “en liefie ek sien jou mammie verwag weer?” Ek moes haar seker heel dom-onosel aangekyk het want my beter ingeligte maatjie snip wat sy was lag my uit en sê: “Ja man, jou ma verwag, ons het haar saterdag gesien” Ek het hulle vol  wantroue en verbasing bekyk en gevra: “Hoe bedoel tannie nou, wat verwag my mammie?” My snip maatjie het uit haar keel gelag: “’n Bybie dommie, jou ma gaan nog ‘n bybie kry” Ek het van my maatjie na haar ma wat ewe vriendelik vir my geglimlag en instemmend [saamstemmend met haar dogtertjie] haar kop geskud het.
“Dit lieg jy” het ek woedend skril geskree. My boetie aan die hand gegryp en begin weghardloop. In die hardloop nog oor my skouer geskree; “Dit lieg jy, dit lieg jy!” Teen die tyd snikkend gehuil en nie omgegee of die mense my aankyk nie. Die hele pad huistoe gehardloop of die duiwel self op my hakke was . My ma het op die stoep sit en brei…aan ‘n fyn pienk bababaadjie. Haar magie het daar gestaan. Sy het saggies oor die magie gevryf en met sagte oë na my gekyk. En voor my verdwaasde amper 12jarige oë het die waarheid oor die lewe my tussen die oë geslaan.
En ek het besef...elke keer, elke liewe keer as my ma so “vet” geword het, al 6 kere sover, het daar ‘n nuwe boetie of sussie opgedaag. Dan is ons gewoonlik in die vroeë oggend-ure by my ouma Hilda afgelaai. Partykeer was dit baie ure voordat my pa teruggekom het. My tannies het vir my ouma die een koppie tee na die ander gemaak. Eenkeer het een van die tannies gevra of ek ‘n boetie of sussie wil hê. Ek het onbegrypend na haar gekyk en gewonder hoekom op aarde ek nog ‘n boetie of sussie sou wou hê..As my pa dan teruggekom het, het hy sodra hy om die draai gekom het, op die toeter begin druk en almal het uitgestorm.
My pa het uit die kar geklim en daar was ‘n sagte glinstering in sy oë. Dan het ons gehoor die ooievaar het ‘n boetie of sussie by die hospitaal gaan aflewer. Daardie aand het ons almal in ons kerkklere agter om die kraamsaal geloop en in ‘n bondel voor my ma se kamervenster gaan staan. Sy het met trane in die oë vir ons kom hallo sê. Die gawe kraamsuster het dan toegedraai in of ‘n pienk of blou kombersie die nuwe aankomeling vir ons deur die venster gewys. Ons het ons verkyk aan die bondeltjie mens en amper eerbiedig na die kombi geloop. As die nuweling by die huis gekom het is hy/sy oorlaai met liefde en aandag. Ons harte was soos die spreekwoordelike taxi...daar was altyd plek vir nog een.
Daardie dag op die stoep het my ma my vertel dat babatjie kom uit mammas se magies...Liewe Jesus sit hulle in die mamma se magie en Liewe Jesus haal hulle weer uit....Ek wou nog vra “hoe” toe sy se dat ek nog te klein is om alles te verstaan.  In die hoërskool het my slim maatjies my toe vertel hoe babatjies in mammas se magies kom en hoe hulle weer daar uitkom...en Liewe Jesus was glad nie in daai storie nie..
Share asb my blog met julle vriende.
Eleen

No comments:

Post a Comment