Saturday, June 9, 2012

8 Kinders en counting...


8 Kinders en counting...
Ek was die oudste van 8 kinders. 5 Susters en 3 broers. My ma het ‘n baba voor my verloor en dokters het voorspel sy sou nooit weer kon kinders he nie. Moeder gelowige vrou wat sy was, het vir haar laat bid..en daar was ons. 8 Pragtige, goed gemanierde, slim en gewilde kinders.
Ek het eendag gehoor hoe sy die storie vir ‘n ou dame vertel. En sluit my ma toe af: ‘ek het nie gedink die Here sou vir my 8 kinders gee nie,’ waarop die tannie toe antwoord:”maar kind jy het seker nooit vir die Vader gese dat jy nou genoeg kinders het nie’
Sondae het sy trots soos ‘n pou met ons in die kerk ingestap. Ek het soms oor my skouer na hulle agter in die kerk geloer. Dan het sy daar met die sagte glinstering in die groen-bruin oë gesit en trots na ons gekyk waar ons by ons maats in die kerk gesit het.
Een so sondag was ons bietjie laat. Ons is haastig en ordelik die kerk in en het net gaan sit...toe ons een in bloed en gedagte gelyktydig agterkom...ons het vir kleinsus toe skaars 2 by die huis vergeet. Asof ons vooraf op die uur besluit het staan ons gelyk op en verlaat soos een man die kerk. In ‘n oogwink is ons in ons ligblou kombi en jaag pa teen ‘n angswekkende spoed huistoe. Ma het kalm doodstil gesit maar haar oe was toe en haar lippe het geroer. Ons het groot oë vir mekaar gekyk en ‘n paar het gehuil.
Toe pa voor die huis stilhou spring ons uit..net om doodstil te gaan staan..Daar sit kleinsus op die stoep, haar krulhare soos ‘n stralekrans om die koppie, die blou oë rooi gehuil maar ewe kalm. So asof sy geweet het;hulle sal terugkom vir my.
Die einste sussie het elke aand ‘n lang ritueel van nagsê gehad. Aand na aand het haar helder stemmetjie uit die kamer gekom: ‘Nag pappa, nag mamma, nag Lienie{ek} nag Fikka[Frikkie},nag Dopie{dolf], nag Lella[Lettie}, nag Rietie{Ria] nag Nikka [Nico},nag Allie[Alta] en dan ten einde laaste;”Nag Liewe Jesus”
En daar sou ‘n vrede daal oor die ou huis waar daar nie altyd geld was vir luukshede nie, maar waar daar baie liefde was en herinneringe elke dag gebore is. Waar die 8 kinders rustig aan die slaap geraak het met Jesus in hulle gedagtes en op hulle lippe.
Lekker slaap julle almal en “Nag Liewe Jesus”
Eleen

No comments:

Post a Comment