Friday, June 29, 2012

Die Wonderwerk


Die Wonderwerk

Hy het twee dae voor die kersvakansie by ons begin werk. Aanbeveel deur een van ons

getrouste werkers. Skaars so hoog soos ‘n tienjarige kind, maar met die deursettings vermoe van ‘n reus.  “Nee meneer ekt vir jare en jare die busse gedryf Moria toe; allie pad van George tot in die Transvaal. Vra enige een of hulle “James Visser” ken en meneer sal hoor. Die later kenmerkende kekkel-laggie gelag. So het hy deel van ons lewens geword.



Die 5 Blaesertjies was mal oor hom. Hulle het hom om hulle pinkies gedraai en hy sou deur die vuur vir hulle loop. Was menige dag in die moeilikheid omdat hy eers allerhande draaie met hulle na skool moes gaan ry. Hy het ook nie geskroom om hulle kort te vat [self later as volwassenes] as hy dink hulle is verkeerd nie. Daar was nog nooit iemand wat so presies geweet het watse onderlaag, maskara, naellak of shampoe ek gebruik nie.



James het ‘n hele wonderpot vol stories gehad om te vertel. So vertel hy my eendag die volgende: Mam weet my ou vader was ‘n vreeslike moeilike man. Als was ‘n sonne. Ons kon nou wraggies nie verkeerd sit nie dan brand onse gatte net daar.



So kom nooi my neef my en my broer toe om te gaan dans. Ek vra hom toe of hy mal is, want as die ou man ons vang is ons so goed soos kinnertjie dood. Maar my neef hou aan en aan. Die prentjie wat hy skilder is so mooi en dit klink so lekker dat ek naderhand nie kan wag om daar te kom nie. Toe ek vra hoe kom ons daar en hulle se oge draai gelyk na waar my pa se ou bakkie staan sluk ek amper my tong in. Julle het seker julle se breins iewers verloor se ek vir hulle. Maar hulle bly net na my kyk en dan na die bakkie. En ek weet die enigste manier hoe ek respekte van die manne gaan kry is as ek saamspeel. Ek weet ook dat as my pa ons vang my lewe op die ou aarde verby is.



So wag ons  tot die ou man se gesnork amper die dak aflig, toe stoot ons die bakkie stilletjies en biddende uit die jaart uit en daar gaat ons. Ons park toe die bakkie so voor die deur waar ons dit uit die saal kan dophou. Mam en twaalfuur stap ons lekker warm van die goedkoop wyn bakkie toe.  Ek hoor my broer se benoude gil en mam toe ek sien wat hy sien toe raak ek yskoud en warm en yskoud en net daar nugter. Want daar op die bestuurskant se deur sit ‘n yslike duik. Ek begin net daar soos ‘n kind te kerm. En ek weet James Visser jou lewe is verby..



Mam net daar onthou ek van my ander neef daar naby wat by ‘n panelbeaters werk. Ons gaan jaag hom uit die bed. Mam dit was ‘n vreeslike nag. Ek wil nie eers daaraan dink nie wat nog daarvan praat. Maar daarie oggend toe die son net net sy kop oor die berge wou uitsteek park ons die bakkie op sy plek onder die boom. So reg soos ons hom daar gekry het. Ons spring sommer met klere en al innie bed want ons hoor my pa roer in sy kamer.



Mam..en ons het skaars onse le gekry toe hoor ons die ouman se bulderende stem. Vrou-vrou roep hy na my ma...kom kyk..kom kyk...hiet ‘n moerse wonnerwerk gebeur. Gistraand het ek myse bakkie ingeduik onner die boom gepark en toe ek nou van die lavatrie af daar verby loop...sal ek sien da staan die bakkie...vrou jy sallit nie glo nie...maar heellemal reg...sonner die duik...

Monday, June 11, 2012

Die dag toe ek slim geword het...

Die dag toe ek slim geword het...
Komende uit die era toe kinders gesien en nie gehoor is nie, het ek op die brose ouderdom van amper 12 nog nie geweet waar babas vandaan kom nie.
So het ek en my boetie my maatjie en haar ma in die dorp raak geloop. Die tannie het ewe vriendelik gese: “en liefie ek sien jou mammie verwag weer?” Ek moes haar seker heel dom-onosel aangekyk het want my beter ingeligte maatjie snip wat sy was lag my uit en sê: “Ja man, jou ma verwag, ons het haar saterdag gesien” Ek het hulle vol  wantroue en verbasing bekyk en gevra: “Hoe bedoel tannie nou, wat verwag my mammie?” My snip maatjie het uit haar keel gelag: “’n Bybie dommie, jou ma gaan nog ‘n bybie kry” Ek het van my maatjie na haar ma wat ewe vriendelik vir my geglimlag en instemmend [saamstemmend met haar dogtertjie] haar kop geskud het.
“Dit lieg jy” het ek woedend skril geskree. My boetie aan die hand gegryp en begin weghardloop. In die hardloop nog oor my skouer geskree; “Dit lieg jy, dit lieg jy!” Teen die tyd snikkend gehuil en nie omgegee of die mense my aankyk nie. Die hele pad huistoe gehardloop of die duiwel self op my hakke was . My ma het op die stoep sit en brei…aan ‘n fyn pienk bababaadjie. Haar magie het daar gestaan. Sy het saggies oor die magie gevryf en met sagte oë na my gekyk. En voor my verdwaasde amper 12jarige oë het die waarheid oor die lewe my tussen die oë geslaan.
En ek het besef...elke keer, elke liewe keer as my ma so “vet” geword het, al 6 kere sover, het daar ‘n nuwe boetie of sussie opgedaag. Dan is ons gewoonlik in die vroeë oggend-ure by my ouma Hilda afgelaai. Partykeer was dit baie ure voordat my pa teruggekom het. My tannies het vir my ouma die een koppie tee na die ander gemaak. Eenkeer het een van die tannies gevra of ek ‘n boetie of sussie wil hê. Ek het onbegrypend na haar gekyk en gewonder hoekom op aarde ek nog ‘n boetie of sussie sou wou hê..As my pa dan teruggekom het, het hy sodra hy om die draai gekom het, op die toeter begin druk en almal het uitgestorm.
My pa het uit die kar geklim en daar was ‘n sagte glinstering in sy oë. Dan het ons gehoor die ooievaar het ‘n boetie of sussie by die hospitaal gaan aflewer. Daardie aand het ons almal in ons kerkklere agter om die kraamsaal geloop en in ‘n bondel voor my ma se kamervenster gaan staan. Sy het met trane in die oë vir ons kom hallo sê. Die gawe kraamsuster het dan toegedraai in of ‘n pienk of blou kombersie die nuwe aankomeling vir ons deur die venster gewys. Ons het ons verkyk aan die bondeltjie mens en amper eerbiedig na die kombi geloop. As die nuweling by die huis gekom het is hy/sy oorlaai met liefde en aandag. Ons harte was soos die spreekwoordelike taxi...daar was altyd plek vir nog een.
Daardie dag op die stoep het my ma my vertel dat babatjie kom uit mammas se magies...Liewe Jesus sit hulle in die mamma se magie en Liewe Jesus haal hulle weer uit....Ek wou nog vra “hoe” toe sy se dat ek nog te klein is om alles te verstaan.  In die hoërskool het my slim maatjies my toe vertel hoe babatjies in mammas se magies kom en hoe hulle weer daar uitkom...en Liewe Jesus was glad nie in daai storie nie..
Share asb my blog met julle vriende.
Eleen

Saturday, June 9, 2012

8 Kinders en counting...


8 Kinders en counting...
Ek was die oudste van 8 kinders. 5 Susters en 3 broers. My ma het ‘n baba voor my verloor en dokters het voorspel sy sou nooit weer kon kinders he nie. Moeder gelowige vrou wat sy was, het vir haar laat bid..en daar was ons. 8 Pragtige, goed gemanierde, slim en gewilde kinders.
Ek het eendag gehoor hoe sy die storie vir ‘n ou dame vertel. En sluit my ma toe af: ‘ek het nie gedink die Here sou vir my 8 kinders gee nie,’ waarop die tannie toe antwoord:”maar kind jy het seker nooit vir die Vader gese dat jy nou genoeg kinders het nie’
Sondae het sy trots soos ‘n pou met ons in die kerk ingestap. Ek het soms oor my skouer na hulle agter in die kerk geloer. Dan het sy daar met die sagte glinstering in die groen-bruin oë gesit en trots na ons gekyk waar ons by ons maats in die kerk gesit het.
Een so sondag was ons bietjie laat. Ons is haastig en ordelik die kerk in en het net gaan sit...toe ons een in bloed en gedagte gelyktydig agterkom...ons het vir kleinsus toe skaars 2 by die huis vergeet. Asof ons vooraf op die uur besluit het staan ons gelyk op en verlaat soos een man die kerk. In ‘n oogwink is ons in ons ligblou kombi en jaag pa teen ‘n angswekkende spoed huistoe. Ma het kalm doodstil gesit maar haar oe was toe en haar lippe het geroer. Ons het groot oë vir mekaar gekyk en ‘n paar het gehuil.
Toe pa voor die huis stilhou spring ons uit..net om doodstil te gaan staan..Daar sit kleinsus op die stoep, haar krulhare soos ‘n stralekrans om die koppie, die blou oë rooi gehuil maar ewe kalm. So asof sy geweet het;hulle sal terugkom vir my.
Die einste sussie het elke aand ‘n lang ritueel van nagsê gehad. Aand na aand het haar helder stemmetjie uit die kamer gekom: ‘Nag pappa, nag mamma, nag Lienie{ek} nag Fikka[Frikkie},nag Dopie{dolf], nag Lella[Lettie}, nag Rietie{Ria] nag Nikka [Nico},nag Allie[Alta] en dan ten einde laaste;”Nag Liewe Jesus”
En daar sou ‘n vrede daal oor die ou huis waar daar nie altyd geld was vir luukshede nie, maar waar daar baie liefde was en herinneringe elke dag gebore is. Waar die 8 kinders rustig aan die slaap geraak het met Jesus in hulle gedagtes en op hulle lippe.
Lekker slaap julle almal en “Nag Liewe Jesus”
Eleen

Friday, June 8, 2012

Nuwe Skrywer

NUWE SKRYWER
Ek is vandat ek kan onthou mal oor stories. As klein dogtertjie moes my ouma saans vir ure vir my stories vertel. Ek het groot-oog in haar snoesige warm verebed gele en luister. My ingeleef in die wonder-wereld van feetjies en kabouters wat in sampioenhuisies woon in groen woude. Van heldinne met lang blonde hare, blou oe, velle soos sneeu en lippe soos bloed.
Toe ek op ‘n baie jong ouderdom en lank voor skooltoegaan ouderdom reeds self kon lees was ek vir ewig en altyd “gehook” op boeke. Ek was dol oor opstelle skryf op skool en juffrou het dit byna altyd vir die klas voorgelees. Vir jare die kerk se maanblad behartig, maar dit was dit wat skryf aanbetref.

‘n Paar jaar gelede wou ek ‘n boekwinkel koop. Die eienares het my uitgelag. “jy sal geen wins maak nie, jy sal nie jou maatjies kan verkoop nie” het sy gelag.
Ek het op die ouderdom van 53 begin om ‘n boek te skryf [wat hopelik nog vanjaar sal verskyn] toe ek net geweet het, ek MOET Anne se verhaal vertel. Haar verhaal was so in my hart en vingers dat my vingers byna vanself getik het. My eerste boek Sprankel Dief is gebore.
Die skokkende en hartseer ware verhaal van Anne wat op ‘n baie jong ouderdom in die mag van ‘n manipuleerder en sadis vasgevang word. Haar verskriklike stryd om teen hom staande te bly en haar kinders te beskerm. Anne se trane en verdriet is vasgevang in swart op wit. Elke vernedering en hou wat Anne ontvang het, haar bloed wat gevloei het roep uit die blaaie van my boek.
Dit roep na elke vrou  wat dieselfde pad as sy stap. Dit roep na die vrou daarbuite wat met haar mond glimlag maar huil in haar hart. Wat vir dae in haar huis of agter ‘n donkerbril skuil sodat die blou merke eers kan verdwyn.
Vir hulle se Anne: “Daar is hoop vroue , die besluit le in jou hande. Dit sal nie maklik wees nie, maar jy kan die sirkel van geweld verbreek. Roep uit en vra hulp. Moenie wegkruip met jou vernederde hart en verbyrselde vrouwees nie. Jy is die slagoffer..jy het niks om oor skaam te wees. God het jou geskape om bemin en geeer te word. Jy is die kroon van God se skepping.
Almal  [mans vroue en jongmense] moet Sprankel Dief lees.
Mag Anne se bloed nie verniet gevloei het nie. Mag haar verhaal die inspirasie wees agter ‘n vrou se besluit om nie langer ‘n slagoffer te wees nie, maar ‘n “survivor” “n Wenner! ‘n Oorwinnaar!
Tot volgende keer

Eleen

Thursday, June 7, 2012

"Mami, sal nou moet begin blog se my dogter/bestuurder/PA/vertaler. Ek sug...'sms,bbm,epos,facebook,twitter en nou blog'..Hoe kry ek tyd om al die
sosiale netwerke "in stand" te hou?
Nouja ek luister as sy praat want iewers langs die pad het my kinders slimmer as ek
geword....
Eks net 'n ma 5 kinders en twee kleinkinders, waarvan ek een groot maak. Hulle is die
lig van my lewe en dit is baie hartseer dat ek die jongste enetjie [Chase} wat in Jeffreys
woon nie so baie sien soos wat ek graag wou nie.
Om jou kleinkind groot te maak beroof mens eintlik van die lekkerte om net 'n ouma te
wees, en al die lekker goed te doen wat oumas doen. Nou is jy weer net 'n ouer wat moet
opvoed en dissipline toepas. Wat nogal 'n probleem is as altwee seuntjies saam is. Ek noem
die enetjie wat ek groot maak sommer kleinman.
Altwee speel rugby. Chase is op die stadium die sportman in die familie.  Kleinman weet nog
nie so lekker wat om met die bal te doen as hy dit kry nie. Chasie speel sy hart uit en het
ook al 'n paar driee gedruk om mee te kan spog.
Verlede saterdag het ons skool die rugbydag aangebied en daar was tot pom-pom girls
met kort rokkies die lot. Die seuntjies het te oulik gespeel en al hulle wedstryde gewen.
Na die rugby sit ek by die rekenaar toe ek kleinman hoor sing. Ek staan op en gaan loer.
Met die verstoffer in die hand sing hy lustig en dans ewe vernuftig al die passies van
die pom-pom girls. Tot waar hy wysbeen op die vloer eindig..'n perfekte "Split"
Ek het dit tot nou toe nie vir niemand vertel nie...so liewe vriende hou dit maar tussen ons.erilene.lamprecht.com