Thursday, August 30, 2012

Die Gatsby pakkie


Die Gatsby pakkie

“Die tannie by die boetiek het vir my ‘n Gatsby pakkie bestel,” sê ons  rooikop vriendin met die skatryk pa pouse. Ons sit in ‘n kringetjie op die gras. Soos al die vorige pouses. Ek sug in my hart en kyk na haar. “O dis groovy,” sê ons en probeer die afguns uit ons stemme hou. “Jip,” sê sy, “ek gaan die eerste een wees om die nuwe mode te dra, hoe groovy is dit?” Ons skud ons koppe instemmend. Jip hoe groovy is dit net nie!!

Toe en en my vriendin later ingehaak wegstap kon jy ons wie weet waar hoor brom. Ons het al die vorige naweek die pragtige nuwe mode bekyk en gewens ons het ook sulke pakkies. Die nou rompie met sy baadjie wat styf om die middel pas en dan uitklok. Omdat ons altwee met die kleinste middeltjies kon spog het ons al gesien hoe ons met die nuwe uitrustings straat afloop op ons hemelhoë platform skoene. Want dit was ook ‘n moet. Saam met die Gatsby moes jy platform skoene dra.

Laat middag sit ek langs die tafel en blaai deur die tydskrif. Ek verkyk my aan die modelle in die Gatsby pakkies en wens my pa was ook ryk. Ma kom loer oor my skouer. “Hmmm baie mooi,” sê sy. “Is dit nou waaroor jy so sit en droom?” Ek knik instemmend. Sy het ookal klaar die klagtes aangehoor oor Magdalena wat alweer die eerste gaan wees om die nuwe mode te dra. “En wanneer kom Magdalena se pakkie?” vra ma ongeërg. Ek sug. Net die blote gedagte aan daai pakkie maak my sommer naar. “Oor omtrent ‘n week.” Sê ek sugtend. “Hmmm” sê ma weer en gaan aan met haar werk.

Ek gooi die tydskrif op die rak en gaan lê op my bed. Droom hoe ek en my vriendin aantrek. Eerste die blink sykouse. Dan die stywe rompies en dan die baadjies wat syf om die middeltjie pas. Ek voel al hoe maak ek die knopies vas. Laaste die platform skoene. Ai as ons net toegelaat word om bietjie make-up te dra. Terwyl ek nog in my droom voor die spieël rond draai raak ek aan die slaap.

Magdalena is vol opgewonde praatjies by die skool. Vrydag is lentedag en dan mag ons aantrek net wat ons wil. Die tannie by die boetiek het belowe haar pakkie gaan betyds daar wees. Die middag is ek in ‘n slegte bui. Ek wil nie eet nie, ek wil nie drink nie en ek wil nie praat nie. Ek sit dikmond langs die tafel en doen my huiswerk. Skuif my boeke met onodige geweld en ‘n geraas rond.  Kyk verwytend na ma. Sy ignoreer my heeltemal tot my verdere misnoeë en gaan aan met haar daaglikste takies. Ek kon net sowel glad nie daar gewees het nie.

Woensdagaand huil ek myself aan die slaap. Ek het om ma se ore geneul of daar nie tog maar ‘n manier was waarop sy vir my ook ‘n Gatsby kon gaan koop nie. Naderhand soos ‘n baba sit en huil. Ek wou ‘n gatsby hê, maak nie saak of ma die laaste kosgeld vat nie. Ma se geduld met my was op. Toe ek my alie wip en wegstap toe ek besef ek gaan nie my sin kry nie, kry sy my so in die wegloop of liewer wegwip aan ‘n vlegsel beet. Ek moes maar druipstert jammer sê. My snikke uit die kamer het ook niks gehelp nie.

Donderdagoggend word ek met ‘n dikkop wakker. Ek vryf my dik oë.en toe sien ek dit. Teen my kas hang dit. Nie net een nie, maar twee Gatsby pakkies. Ek gee ‘n bloedstollende gil en hardloop na die kas. Spring soos ‘n bestene op en af. Huil en lag soos die besetene se nog maller sussie. Die een pakkie is bruin met pienk en blou blomme. Die ander een swart met klein bont blommetjies. So mooi het ek nog nooit gesien nie. Dit lyk nes die fotos in die tydskrif. Hoe het ma dit reggekry?

Ma staan in die deur. Trane in haar mooi sagte bruin oë. Ek gryp haar vas en druk en huil. “Ek het maar twee gemaak, dan kan Annemarie maar die een more aantrek, tot haar ma ook vir haar gemaak het.” sê ma sag. Jubelend vertel ek ma dat sy die beste, wonderlikste, mooiste, slimste ma in die hele wereld is.

Magdalena kom moedeloos by die skool aan. Die pakkie gaan nie betyds wees nie. Ek en Annemarie kyk betekenisvol vir mekaar. Lag en high five toe ons alleen is. Net ons twee weet van die swart pakkie wat veilig in haar tas is.

Vrydagoggend staan ek al dou voor dag op. Lank voor skooltoe-gaan-tyd is ek aangetrek in my bruin pakkie met die blou en pienk blomme. Ek lyk soos ‘n regte jong dame. Die baadjie pas perfek om my klein middeltjie. Die knopies is met dieselfde materiaal as die pakkie oorgetrek. Die skoene word in ‘n sakkie in my tas gepak. Dit sal ek by die skool aantrek. Ma druk my langer as gewoonlik vas. Staan ons agterna ek kyk toe ons wegstap. Ek draai om en waai tot ek haar nie meer kan sien nie.

Ek en Annemarie stap ongeërg op ons platforms na ons maats toe. Maak asof ons nie sien hoe die ander meisies na ons kyk nie. Ons maats staan in ‘n kring om ons. Bewonder ons pakkies. Vertel ons hoe groovy ons lyk. Magdalena se mond hang oop. “Waar kry julle die gatsbies?” vra sy hees.

Ek kyk na haar en glimlag. “Ag my ma het dit sommer gou gemaak. So van die prentjies in die Sarie af.” En toe omdat ek myself net nie kon help nie, steek ek my tong uit, dop my oë om, trek ‘n skewebek en skud my kop heen en weer, asof ek nog ses is en sing-sê:”we-we- we-we, en wie het tog nou eerste ‘n Gatsby pakkie aangehad, we-we-we-we. Hoe groovy is dit nie...hoe groovy is dit nie. ”

Wednesday, August 8, 2012

'n "Gebankery"


‘n “Gebankery”

My goeie vriendin Sonja Venter se pa was die Weermag-attache in Amerika hier in die jare sewentigs. Omdat sy en haar sus nie kon aanpas in die Amerikaanse skole nie, is hulle in die koshuis gesit op haar ma se grootword dorp. So kon hulle naweke by hulle ouma oorbly.

Ek en sy was reeds van kleinsaf maatjies. Omdat ek ‘n jaar ouer was as sy was ek altyd die “baas” van al ons speletjies...Of dalk was ek maar net die baserige soort. Ewenwel ons was baie lief vir skool speel. Ek was die juffrou en sy die leerling. Sy het altyd pak gekry omdat sy nie haar werk reg gedoen het nie. Hoe ek geweet het dit is nie reg sal ek nie weet nie. Want ons was nog baie klein en het van somme en lees niks geweet nie.

Ons afrikaanse juffrou in graad 11 was ‘n juffrou uit die skool vir hekserige-juffrouens. Sy was ‘n lang baie skraal vrou [vandag besef ek sy was baie aantreklik]Kort blonde pennetjie hare, nog lank voor dit in die mode was. Yskoue blou oë wat deur jou gekyk het. Wat elke verskoning wat jy oor laksheid wou uiter in jou keel laat vassteek het. Dan het jy stotterend voor haar gestaan. Haar lippe was permanent saam gepers.

Die eerste twee periodes op ‘n maandag het aan haar behoort. En wat dit met Sonja was weet ek nie, maar haar afrikaanse huiswerk was so gereeld soos klokslag nie gedoen nie. Dan het sy tranerig en rooi in die gesig gestaan ek luister hoe juffrou haar slegsê. En dit was geen grap nie. As sy met jou klaar was sou jy gedink het dit is ‘n kompliment as iemand jou met slangbollie vergelyk.

Ek het haar gereeld sondae koshuis toe gebel. “Doen tog net jou huiswerk”, sou ek maan. Anners is jy weer môre in die moeilikheid by ou de Witt. “Oraait, okay tog, ek sal,” sou sy blatant lieg. Want sowaar as wat die son die oggend oor ons koppe opgekom het. Haar huiswerk was nie gedoen nie.

Die maandag word ‘n briefie vir my aangegee in die saal. Ek het gesien toe sy ‘n paar rye voor my die briefie begin aangee. My moed het in my skoene gesak. Ek het asof gehipnotiseer gekyk hoe die briefie deur vier rye kinders aangegee word. Toe die briefie op my skoot oopgemaak, sonder om my oë van die hoof op die verhoog af te haal. “My homies nie gedoen. Eks dood! Ons moet slip!” Ek het my asem hoorbaar ingetrek. Die hoof het stilgebly en gevra of ek ‘n probleem het. ”Nee meneer, ek wou net nies, en ek was bang ek pla meneer,” het ek sedig gesê. Die hele saal het gelag en meneer se lippe het effens getrek.

Ek het buite die saal vir haar gewag. Sy was bleek van vrees. Juffrou het belowe as daai huiswerk weer nie gedoen is nie, gaan sy reguit hoof toe. En dit was geen grap nie. “Hoekom doen jy nie net die huiswerk nie,” het ek vies gevra. As hulle ons vang...is dit klaar met ons. Maar ek het haar al klaar jammer gekry. Die bruin oë was vol trane en haar mooi lippies het gebewe. Haar “ek verlang vreeslik na my ma” en die trane wat oor haar wange begin rol het het die knoop deurgehaak.

Ons het ons tasse gegryp en tussen die honderde kinders verdwyn. Op die derde verdieping het ons met tasse en al in die badkamers ingegaan. Ons hande gewas en hare gekam tot die laaste kind klas toe is. Toe in die heel laaste toilet gaan sit. Hoe lank kan ‘n uur nou ook wees? Na ‘n paar minute het ons begin ontspan. Harder as gewoonlik gelag vir ons eie simpel grappies.

Die volgende oomblik soos een man stil gebly. Met groot veskrikte oë na mekaar gekyk. Hoëhakskoen-voetstappe het pas die badkamers betree. Klik-klak, klik-klak. En ons ken daai voetstappe asof dit ons eie was. Dit was juffrou. Ons was lam van skrik. Een vir een het sy die deure oopgemaak. Op haar tyd; asof sy spesifiek die tyd opsy gesit het daarvoor.

Ons het altwee bo-op die toilet geklim met ons tasse...[wonder vandag hoe ons dit gedoen het] Juffrou het voor ons deur tot stilstand gekom. Aan die deur gedruk. Toe geklop en gevra: ”Is hier iemand in?” ‘n Paar keer die vraag herhaal. Ons het so stil soos muise gesit. Definitief breinskade opgedoen soos ons asem opgehou het.

Sonja het desperaat beduie ek moet antwoord en ek het beduie: ”nee antwoord jy.” Nee, antwoord jy,” het sy beduie. Maar nie een van ons se stembande wou werk nie. Ons het verlig gehoor hoe juffrou die stryd gewonne gee en wegstap.

Ons het afgeklim en weerskante  op die vloer gaan sit. Die ergste skrik was verby. Ons het weer begin giggel. Ek was besig om ‘n taai wilsontoffie in twee te probeer deel met haar naelskertjie, {onder groot gelag}...toe ek die ongemaklike gevoel kry dat iemand vir my kyk. Ek kyk op..,vas in juffrou se koue grys oë. Sy het seker haar skoene uitgetrek...en kyk nou oor die muur na ons twee af. Sonja lag nog te lekker. Ek wou haar waarsku maar my stembande was verlam. Ek kon voel hoe my wange brand. Sonja lag nog en sê: ”wat gaan aan, het jy ‘n spook gesien,” toe sy opkyk en die “spook” sien. Sy word doodbleek. Die sweet perel skielik op haar bo-lip, en toe..... word sy naar. Bo-oor haar en oor my en ons tasse en die toffie wat ek van skone skok op die vloer laat val het.

Jffrou het geduldig gestaan en wag tot ons weer op ‘n manier “padwaardig” was. Toe sonder ‘n woord beduie ons moet haar volg. Deur die hele groot skool gestap met ons twee skoorvoetend agterna. Die kinders het ons nuuskierig bekyk. Die onderwysers het hulle koppe geskud. My broer het in een van die klasse gesit. Met sy vingers beduie dat my alie gaan brand. Ek het vir hom tong uitgesteek en skewe oë getrek...op die presiese oomblik dat juffrou omkyk. Dit het gelyk asof elke haar nog meer regop spring en haar lippe het verdwyn soos sy dit vasgeknyp het.

Die einde van die saak was die hoof se kantoor. Ons het aan die oorkant van sy tafel gesit. Gesnik dat jy ons wie weet waar kon hoor en ons neuse kliphard geblaas. Hy was ons darem genadig. Ek dink hy wou ons net so gou moontlik uit die kantoor kry. Want ons het nie baie lekker geruik nie. Ek kon huistoe gaan en sy koshuis toe vir skoon klere. Ek is maar liewer saam met haar koshuis toe. Geklee in een van haar rokke later terug skooltoe.

Die middag by die huis moes ek nog by ma ook deurloop, want my boetie was te bly om die nuus te kon oordra, klikbek wat hy was. Later sou ons hom wel laat boet vir sy daad!

Ons is tot heel voor in die klas geskuif. Juffrou het ons toetse en opstelle met ‘n vergrootglas deurgegaan. Ons het gedink graad 11, Afrikaans gaan nooit tot ‘n einde kom nie. Gelukkig vir ons het die stoute Johnny ‘n kaal skets van ‘n vrou gemaak en agter teen die muur geplak. Die vrou se hare het stokkies op haar kop gestaan. Die oë was blou omkring. Die bene was lank en maer. Sy het niks gesê nie, maar Johnny moes voor op my plek kom sit, en ja ek sou nie sê sy lewe was daarna te maklik nie.

Tuesday, August 7, 2012

Gaste vir ete (1972)


Gaste vir ete [1972]

“Julle moenie omkrap nie,” sê ma een vrydagmiddag en vervolg terwyl sy met die potte besig bly, “ons kry mense vir ete.” My moed sak in my skoene. Dit  gaan nou weer net ‘n ekstra gewerkery afgee. Nog voor ek kan vra wie die gaste is, sê ma so half terloop...”O dit is pastoor Dysan-hulle.”

Ek verstik in my koffie en ma klop my eers op die rug. Toe ek weer asem kan kry sê ek geskok: “Nooit...... mammie jok seker!”  Ma is ‘n sagte vrou maar moenie te veel met haar lol nie. “Kyk dat die sitkamer netjies is, en kom dek tafel, en hoekom sal ek jok?” sê ma, kalm soos altyd, maar die kyk in die bruin oë, is waarskuwing genoeg vir my om maar eerder stil te bly. My broer trek vir my groot oë en trek sy skouers op. Maak hom uit die voete voor ma vir hom ook iets kan uitdink om te doen,

Ek vee so hier en daar met die stoflap oor die meubels. Ek dink terug aan die dag toe ons Pastoor Dysan en sy familie ontmoet het. My ouers het in hulle vrye tyd sendingwerk gedoen onder die “swart en bruin mense.”  “Gee jou een raai wat ons alweer op die saterdag-middag moet doen?” het my broer dramaties gevra. My moed het in my skoene gesak. “Ek weet nie wat jy gaan doen nie, maar ek gaan jeug toe by die kerk.” het ek vermakerig gesê.

“Slegte nuus ou Lena kepena...jy gaan nie. Pa het gesê almal...en ek bedoel ons almal...gaan vanmiddag traktaatjies by die nuwe “kleurling-gebied” uitdeel en sommer die nuwe “kleuring” pastoor ontmoet.” Ek het nie eers probeer teestribbel nie...teenstribbel is nie geduld nie. So het ons agt kinders en pa en ma die saterdagmiddag in die stofstrate loop en traktaatjies uitdeel. Die mense het hulle verkyk aan ons. Ons het mooi geglimlag en ieder en ‘n elk vriendelik gegroet. Ma het sakke vetkoek wat sy gebak het aan die kindertjies uitgedeel wat dit verslind het.

Die pastoor en sy gesin het in een van die nuut geboude huisies gewoon. Die oom het ons met ‘n stewige handdruk gegroet. Later sou ek hoor hy is ‘n man met 3 grade en was ‘n bestuurder by ‘n fabriek in die Kaap en die tannie ‘n onderwyseres. Nou het hulle sonder ‘n salaries die werk van die Meester gedoen.

Die Dysan-kinders het teen een muur van die piepklein, pynlike netjiese sitkamertjie gestaan..en ons teen die ander. Ons het mekaar wantrouerig beloer. Die klein skraal tannie het oor haar skilpaddop-bril vir haar kinders gekyk.  “Ma wat wou Regina,” het sy vererg gesê, “vat vir Eileen en gaan wys ha jou kamer” “Julle ander kinders kan almal buite gaan speel. Ek bring koeldrank.

Regina en haar sussie se kamer was propvol met ‘n dubbelbunk-bed en ‘n hangkas. Sy het ‘n klein radio uit die kas gehaal en aangeskakel. Ons bene en koppe het outomaties op die maat van die musiek begin skud en swaai. Ons het begin gesels...twee 15jariges…so verskillend en tog so dieselfde. Die een wit en die ander bruin. Gepraat oor klere, die skool, ouers wat ons nie verstaan nie...en natuurlik..seuns. Sy het my vertel haar nefie is niemand anders as Richard J Smith nie. “Nooit, Regina, hoe groovy is dit.” het ek grootoog gesê.  Sy het ‘n ongelooflike sin vir humor gehad en ons het teen mekaar gelê van die lag. Skelm vir my ‘n paar danspassies gewys. Haar oë dramaties groot gerek, “Oe as die pastoor my nou sien.is dit tiekets met my,” het sy gesê, maar so asof sy nie regtig bang was nie.

Die tannie het ons kom roep en kon sweer ek sien verligting in die groot bruin oë toe sy ons so laggend aangtref. ‘n Feesmaal het vir ons gewag. Rotis met kerrie en gewone vleis. Bruin gebraaide koeksiters in ‘n vreemde sous...ek kan nie eers als onthou nie. Al wat ek weet ons het ons trommeldik geeët. So dat my ma naderhand vir my broers moes groot-oë trek. Ek het skelm twee koeksisters in ‘n servet toegedraai en in my sak gesteek. Toe ek opkyk het die tannie glimlaggend vir my sit en kyk. Ek het bloedrooi gebloos, maar sy het net een groot bruin oog vir my geknip.

So het ons deel van mekaar se lewens geword. En nou kom hulle vanaand hier eet. Een van my vriende kom later die middag daar aan op sy fiets. Ons staan sommer by die hek en gesels. “Kom jy vanaand jeug toe?” vra hy. “Nee ons kry mense vir ete,” sê ek sommer weer vies. “Wie ?” vra hy en balanseer op sy fiets. “Ag sommer mense,”sê ek. “Komaan, wat gaan met jou aan, is dit nou dalk ‘n geheim of wat, wie is die mense?” hou hy aan.

Ek kyk na hom, trek my hele 5vt lyfie regop en lig my ken parmantig. “Nouja as jy moet weet, dis ‘n pastoor en sy gesin,” en na ‘n oomblik se wyfeling se ek sag, so asof ek bang is iemand hoor,” hulle is nie wit mense nie, hulle is bruin mense.”

“Jy flippen lieg seker,” sê hy geskok en se dan dood ernstig:” Dis teen die wet hoor, jou pa gaan in die tjoekie beland. Ek weet! My oom is in die polisie. Net verlede week het ek gehoor hy vertel vir my pa van die man wat hulle in die tjoekie gegooi het, oor dieselfde storie. Mens mag net wit mense nooi om vir jou te kom kuier.” Hy skop-skop teen die klippies, sê dan: “Shit, dit is nou ‘n helse gemors. Ek is bly eks nie jy nie.”

Ek voel nou bang. My hart begin vinnig klop en my ore suis. Wat as hulle my pa in die tronk gooi? My vriend kyk my met groot ernstige oë aan. “Miskien gooi hulle julle nog almal in die tronk.” Ek word kwaad, juis omdat ek nou so bang is. “Moenie simpel wees nie, kinders kan nie tronk toe gaan nie. En hoor hier, my pa sal niks oorkom nie. Dis vir die kerk en dan mag mens sulke mense nooi. Ek het gehoor toe die grootmense praat. Kry liewer jou ry. Ek moet my ma gaan help.” Ek kyk hom nors en onvriendelik aan. In my hart is ek baie kwaad vir my ma. Gaan die ete nou veroorsaak dat ek en my maat van baie jare nou kwaaivriende word. My oë brand en ek sluk die trane swaar weg.

Ons kyk mekaar ‘n hele rukkie stip in stilte aan. Hy swaai sy fiets vererg om en daar gaan hy. In die ry skree hy nog:” Laat weet maar as ek met die kettie vir jou moet kom peanuts deur die tralies inskiet.” Ek skree terug: “Ja en hardloop en gaan vertel nou vir die hele wereld. Klikkie klikkie klikbek, val van die trap, breek jou nek. Se vir jou ma dis ek.” Toe ek opkyk staan my ma op die stoep. Vadoek in die hand. Sy sê net niks, maar die uitdrukking op haar gesig spreek boekdele.

Die hemel het nie op ons geval nie. Die polisie het nie my pa kom vang of ons kinders in die kindertronk gegooi nie. Ons het tot laataand heerlik saam met oom en tannie Dysan en hul goed-gemanierde kinders gekuier. Die oom het ons laat skater van die lag met al die staaltjies oor die Kaap se mense. Die Dysan-familie en ons was vir jare vriende. Oom Dysan is jare later omgery deur ‘n dronk-bestuurder wat oor ‘n rooi robot gery het.
Ma was reg...al het ons verskillend gelyk...was ons maar dieselfde.

Sunday, August 5, 2012

Die onwelkome bedmaat


Die onwelkome bedmaat

Jare gelede het ons aan ons huis laat werk.  Op ons vriende Katinka en Daan se uitnodiging trek ons toe die groot karavaan onder ‘n yslike maroelaboom, op hul plot buite Pietersburg.

Ons het baie lekker gebly. Die aande was soel en warm. Hulle het my leer veerpyltjie speel en ons het tot in die oggendure gesit en kaart speel. Honderde koppies koffie gedrink, baie gelag en meer geeët as wat ons moes.

Een nag laat ,na ek weer verloor het met die kaartspelery, besluit ek om maar solank te gaan slaap. Dit was nog in die veilige dae. Ek stap sonder vrees onder maanlig na die karavaan onder die boom. Sonder om die ligte aan te skakel, trek ek my japon uit en klim vaak in die bed. Dis toe ek op my sy draai dat ek besef hier is fout...groot fout.

Ek weet nie of ek hom eerste geruik het of gevoel het nie. Maar die volgende oomblik besef ek: hier is iemand in my bed. Toe die iemand in die donker opspring en ek sien hier kom die arms.toe gil ek. My oë was nou gewoond aan die donker. Ek en ‘n donker gedaante kyk mekaar in die oë. Ek gil en hy skree. ‘n Onaardse geskree wat die dooies sou laat opstaan. ‘n Geskree wat ek dink nou nog oor die vlaktes weerklink. Sy geskree spoor my stembande tot hoër hoogtes aan...en ek gil!!!

Toe breek chaos los. Ek spring met een haal uit die bed. Die yslike Perinese berghond wat buite le en slaap het, storm met ‘n geblaf en gegrom in die karavaan in. Die swart gedaante probeer by die hond verby kom. Met ‘n onaardse gegrom duik hy die indringer plat en gaan staan oor hom. Die het nou so groot geskrik hy kyk net met rollende oë na die yslike kwylende bek hier bo sy gesig. Skoon lam van die skrik. As hy net ‘n beweging maak, grom die hond iets vreesliks. Met lam bene staan ek net en kyk. Nou skoon stil van skok.

Burt en die vriende storm die karavaan in. Gaan staan eers stil van verbasing. En toe gil my vriendin. Sy druk haar hande langs haar gesig en gil...!!Van skone skok oor haar angswekkende gegil, begin ek ook weer gil. Ons kyk mekaar met groot oë aan en gil. Ek staan vasgedruk in die hoekie want die hond en die indringer versper die pad. Burt trek my sonder seremonie tot by hulle en gee my ‘n paar rukke sodat ek kan kalmeer. Daan druk Katinka se mond toe. Sy vererg haar so daaroor dat sy skoon vergeet om te skree.

Burt en Daan maak die ou op ‘n stoel sit en hou oor hom wag. Die telefoon is buite werking en ek en Katinka jaag teen ‘n vreeslik spoed dorp toe. In die kar kyk ons met groot oë na mekaar en snik hardop. Gee mekaar se hande ‘n drukkie asof ons wil sê: wees sterk vriendin, ons sal deur die vreeslike ding kom.

Die arme konstabel aan diens wou seker agterna uit die mag bedank. Hy het by die deur gestaan toe ons instorm. Ons gryp hom aan die arm. Terwyl ons altwee gelyk praat trek ons hom buite toe. Hy moet nou op die daad die skelm kom vang. Hy beur verskrik terug. Probeer praat maar kry nie ‘n woord in deur ons deurmekaar gepraat nie. Gelukkig vir hom en vir ons verskyn die Sersant aan diens. Hy het seker voorheen kennis van histeriese vrouens gehad, want binne sekondes staan ons ewe kalm en vertel die storie. Hy bekyk ons ewe ernstig, vra of iemand beseer is, of daar enige bloed is? Ons skud ons koppe. Hy draai om en vroetel met ‘n klompie leers. Maar eks seker sy skouers het geskud soos hy lag.

Die sersant ry agter ons aan plot toe. Daar aangekom sit my bedmaat nog ewe op die stoel. Burt en Daan wakende oor hom. Ek sien hy het ‘n snaakse grys uniform aan. Dis toe die sersant sy hand wil vasboei om hom weg te vat toe ek dit sien: ‘n wit bandjie om sy gewrig. Ek wys dit vir die sersant. Hy lig daarop met sy flits. Daar staan dit toe. Sy naam en pasient nommer en die naam van die Psigiatriese Hospitaal waaruit hy ontsnap het.

Wat sou gebeur het as die hond nie ingestorm het nie, weet ek nie. Eks maar net baie dankbaar hy het.