Tuesday, February 12, 2013

'n Laaste kuier saam met ma


‘n Laaste kuier saam met ma



Hier waar ek sit en skryf sien ek haar staan. Vir ma. Daardie dinsdag. Die laaste keer dat ek by haar gekuier het.
Daardie oggend het ek wakker geword en geweet. Vandag gaan ek vir ma kuier. Ek moes net. In my gemoed was n onrustigheid, n onstuimigheid wat nie wou bedaar nie.
Ek het vroeg die oggend voor haar huis gestop. Die toeter geblaas. Sy het op die stoep uitgekom. Vir ‘n oomblik verbaas na my motor gekyk. Ek het laggend vir haar n soentjie geblaas. Syt na my staan en kyk. Haar hande in haar sye, haar kop skeef gedraai. Haar oë het gelag en ‘n bree glimlag van verrassing het haar gesig opgehelder.
Al het ek dit op daardie oomblik nie geweet nie, was dit een van daardie oomblikke wat vir tyd en ewigheid altyd in my brein en my hart ingeets sou wees. Die beeld van ma soos sy daardie oggend op haar stoep gestaan het.
Ek het uitgeklim. Sy het nader geloop en gesê: “Maar dit is darem nou n baie groot verassing.” Ek het ‘n bos blomme na haar uitgehou. Rose, angeliere, fyn varings en groot pienk lelies. Sy het dit geneem en haar gesig in die geurige weelde gedruk. Sy het my gesoen en laggend n traan van haar wang gevee.
Het ek my daardie dag net verbeel of was daar ‘n sagte lig om haar. Dat daar n sagte hunkering in haar oë was? Hoekom o hoekom was daar niks wat my kon voorberei dat hierdie my laaste kuier by ma was nie?

Ons het die winkels ingevaar. Ek het vir haar 2 nuwe rokkies gekoop. Ek het haar probeer ompraat vir n sagte broekpak. Syt laggend haar kop geskud. Ma het glad nie langbroeke gedra nie. By die apteek geurige lyfroom en parfuum wat ek eers laf in die lug gespuit het sodat sy onder dit moes deurloop.  “En waarom al die persente, ek verjaar mos eers oor 3 weke?” het sy gevra, maar haar oë was blink en sag, gelukkig.
Ons het baie gelag, daardie laaste dag. Die simpelste opmerking het ons slap van lag teen mekaar laat leun. Ma het n ongelooflike sin vir humor gehad. Hoe moes ek toe weet dat die lag in huil gaan verander.
By die musiekwinkel het ek vir haar die nuutste Cathy Viljoen kasset gekoop. Syt met haar vinger daaroor gevryf. Daar het n liedjie oor die luidspreker gespeel: ‘One glad morning when this live is over I’ll fly away. To a land where joy shall never end. I’ll fly away...
Deur die blommewinkel se venster het ons na die handgemaakte lappoppe gekyk. Syt my vertel ouma het vir hulle sulke poppe gemaak as kinders. Ons het ingegaan en ek het n pop met n blou narpak aan in haar arms gedruk. Sy het dit vir n oomblik teen haar vasgedruk. Dalk het ek my verbeel maar haar blik het verby die blomme in die winkel gekyk. Daar vêr, waar ons mense nie kan sien nie. Het sy dalk die glinstering van strate van goud gesien? Of het sy aan haar ma gedink wat haar reeds vooruit gegaan het?
Laggend en al geselsend het ons deur die winkels geloop. Warm en moeg in die restaurant se sagte stoele gaan neerplons. Ons het oor die tafel vir mekaar gekyk en het ek my verbeel of was daar vir n slegs n oomblik n vreemde trek in haar oë. So asof sy toe reeds geweet het dat ek en sy nooit weer so oorkant mekaar sou sit nie. Het sy vir n oomblik jammer vir my gevoel omdat sy geweet het hoe seer dit vir my gaan wees as sy weg is....Ons het klein porsies kos en yslike nageregte bestel. Soos kinders dubbele dik melkskommels gedrink.  
Ons het gepraat en gepraat. Sy was bekommerd oor van haar kinders. Oor my pa wat van die huis gewerk het. Ekt geluister, alhoewel ek nie raad gehad het nie. Syt my vertel van n droom wat sy oor een van my broers gehad het. Die trane het oor haar wange geloop en sy het dit met n servet weggeklad. Daar was n dringendheid in haar, soos iemand wat op n reis gaan en alle take wil afhandel voor sy vertrek.
Sy moes geweet het dat sy ons gaan verlaat. Want weke voor die dag het sy my laat belowe dat ek na my twee klein sussies en my pa sal kyk as sy weg is. Maar ek, ek het nie vir een oomblik gedink dat dit ons laaste kuier saam is nie.
Toe ons later huistoe ry was ons altwee stil. Te stil besef ek vandag. By die huis het ons op die stoep getalm. Syt my haar lidrose gewys wat in malse oordadigheid oortrek was van dubbele pienk en rooi blomme. Haar varings wat gesond en groen uit hulle potte gepeul het.

Sy het my vertel dat sy al haar kaste uitgepak en skoongemaak het. Als wat sy nie gebruik nie, uitgegooi het. Hoe moes ek weet dit was nie net ‘spring cleaning’ nie. Dat sy besig was om gereed te maak om haar bruidegom te ontmoet nie. Dat die dinge van die aarde nie meer vir haar saak gemaak het nie. Elke kind se kaartjies,briefies ens is individueel uitgesoek en in n groot bruin koevert gebere met sy of haar naam op.
Syt vir my die briefie gewys wat ek vir haar in die hospitaal gestuur het toe my jongste sus gebore is, saam met die bord kos wat ek gekook het. “Vir mammie. My eerste poging. Jammer die boontjies het gebrand. Die pampoen is nie te sleg nie. Tannie Hannetjie het my raad gegee. Van mammie se groot dogter. Eleen.” Daarmee saam n fyn sakdoekie, waaraan ek met groot slordige steke n kantjie gewerk het.
Sy het vir ons koffie gemaak en ons het rustig in haar sitkamer gesit. Die orrel waarop sy elke oggend gespeel het, het oopgestaan. Die kinders het op haar skoot kom klim en sy het plek gemaak vir altwee. Syt het Lidus in sy sytjie gekielie tot hy skaterlag en vir Sussie teer op die groot lint in haar min haartjies gesoen. Het ek my verbeel of was daar vir n oomblik groot droefheid in haar oë toe sy na my kyk. Toe sy die twee kindertjies teer teen haar vasgedruk het.
Ek kon daardie dag nie my ry kry nie. Dit was asof n onsigbare mag my daar by ma se huis wou hou. Ek is bang om in die donker alleen te ry. Maar die donker het my daar kom kry. In ma se huis, terwyl ons die hoeveelste koppie koffie drink.
Ek het my handsak opgetel en weer neergesit. Getalm. Ek sou weer in haar huis kom na sy weg is. Maar wat is n huis sonder ‘n moeder?

Sy het op die sypaadjie gestaan en vir my gewaai toe ek ry. My oor en oor gemaan om versigtig te ry. Ek het in die spieëltjie gekyk en haar daar sien staan totdat ek in die hoofpad ingedraai het. Ek het die motor se noodligte aangesit as laaste groet. My verwonder aan die gevoel van absolute verlorenheid wat oor my kom lê het.
Dit het gevoel of ek my hart by ma agter gelaat het. Daardie laaste dag. Naby die huis het ek n yslike uil raakgery. In trane uitgebars en onbeheersd gehuil van skrik.
Die vrydagaand het ma en pa die kinders gebring. Hulle was haastig. Syt met die groetslag n bakkie met heerlike bruin vetkoekies na my uitgehou. “Laat dit goed gaan met jou,” het sy gesê en my teer gesoen. Die volgende oggend het ma se siel haar liggaam verlaat. Daar langs die pad naby Louis Trichardt.

Ek het baie keer gewonder wat ek sou doen as ek moes weet daardie dag, dat dit my laaste kuier by ma was. Sou ek daar gebly het. Haar dag en nag opgepas het, sodat die engele haar nie kon kom haal nie. Sou ek voor God gelê het en hom gesmeek het om haar nie so gou al te kom haal nie.
Maar ons weet en ons ken nie die uur wanneer Jesus ons kom haal nie. Hier waar ek sit na soveel jare, pyn my hart as ek dink aan ma en ons laaste kuier saam. Maar ek koester dit in n spesiale kamer in my hart.  Want ek weet...daar bo in die hemel wag sy vir my. Daar gaan ons mekaar weer in blye weersiens ontmoet. Daar waar geen afskeid is nie. Waar daar geen laaste kuier is nie. 

1 comment: