‘n Laaste kuier saam met ma
Hier waar ek sit en skryf sien ek haar
staan. Vir ma. Daardie dinsdag. Die laaste keer dat ek by haar gekuier het.
Daardie oggend het ek wakker geword en
geweet. Vandag gaan ek vir ma kuier. Ek moes net. In my gemoed was n onrustigheid,
n onstuimigheid wat nie wou bedaar nie.
Ek het vroeg die oggend voor haar huis
gestop. Die toeter geblaas. Sy het op die stoep uitgekom. Vir ‘n oomblik verbaas
na my motor gekyk. Ek het laggend vir haar n soentjie geblaas. Syt na my staan
en kyk. Haar hande in haar sye, haar kop skeef gedraai. Haar oë het gelag en ‘n
bree glimlag van verrassing het haar gesig opgehelder.
Al het ek dit op daardie oomblik nie geweet
nie, was dit een van daardie oomblikke wat vir tyd en ewigheid altyd in my
brein en my hart ingeets sou wees. Die beeld van ma soos sy daardie oggend op
haar stoep gestaan het.
Ek het uitgeklim. Sy het nader geloop en
gesê: “Maar dit is darem nou n baie groot verassing.” Ek het ‘n bos blomme na
haar uitgehou. Rose, angeliere, fyn varings en groot pienk lelies. Sy het dit
geneem en haar gesig in die geurige weelde gedruk. Sy het my gesoen en laggend
n traan van haar wang gevee.
Het ek my daardie dag net verbeel of was
daar ‘n sagte lig om haar. Dat daar n sagte hunkering in haar oë was? Hoekom o
hoekom was daar niks wat my kon voorberei dat hierdie my laaste kuier by ma was
nie?
Ons het die winkels ingevaar. Ek het vir
haar 2 nuwe rokkies gekoop. Ek het haar probeer ompraat vir n sagte broekpak.
Syt laggend haar kop geskud. Ma het glad nie langbroeke gedra nie. By die
apteek geurige lyfroom en parfuum wat ek eers laf in die lug gespuit het sodat
sy onder dit moes deurloop. “En waarom
al die persente, ek verjaar mos eers oor 3 weke?” het sy gevra, maar haar oë
was blink en sag, gelukkig.
Ons het baie gelag, daardie laaste dag. Die
simpelste opmerking het ons slap van lag teen mekaar laat leun. Ma het n
ongelooflike sin vir humor gehad. Hoe moes ek toe weet dat die lag in huil gaan
verander.
By die musiekwinkel het ek vir haar die
nuutste Cathy Viljoen kasset gekoop. Syt met haar vinger daaroor gevryf. Daar
het n liedjie oor die luidspreker gespeel: ‘One glad morning when this live is
over I’ll fly away. To a land where joy shall never end. I’ll fly away...
Deur die blommewinkel se venster het ons na
die handgemaakte lappoppe gekyk. Syt my vertel ouma het vir hulle sulke poppe
gemaak as kinders. Ons het ingegaan en ek het n pop met n blou narpak aan in
haar arms gedruk. Sy het dit vir n oomblik teen haar vasgedruk. Dalk het ek my
verbeel maar haar blik het verby die blomme in die winkel gekyk. Daar vêr, waar
ons mense nie kan sien nie. Het sy dalk die glinstering van strate van goud
gesien? Of het sy aan haar ma gedink
wat haar reeds vooruit gegaan het?
Laggend en al geselsend het ons deur die
winkels geloop. Warm en moeg in die restaurant se sagte stoele gaan neerplons.
Ons het oor die tafel vir mekaar gekyk en het ek my verbeel of was daar vir n
slegs n oomblik n vreemde trek in haar oë. So asof sy toe reeds geweet het dat
ek en sy nooit weer so oorkant mekaar sou sit nie. Het sy vir n oomblik jammer
vir my gevoel omdat sy geweet het hoe seer dit vir my gaan wees as sy weg
is....Ons het klein porsies kos en yslike nageregte bestel. Soos kinders
dubbele dik melkskommels gedrink.
Ons het gepraat en gepraat. Sy was bekommerd
oor van haar kinders. Oor my pa wat van die huis gewerk het. Ekt geluister,
alhoewel ek nie raad gehad het nie. Syt my vertel van n droom wat sy oor een
van my broers gehad het. Die trane het oor haar wange geloop en sy het dit met
n servet weggeklad. Daar was n dringendheid in haar, soos iemand wat op n reis
gaan en alle take wil afhandel voor sy vertrek.
Sy moes geweet het dat sy ons gaan verlaat.
Want weke voor die dag het sy my laat belowe dat ek na my twee klein sussies en
my pa sal kyk as sy weg is. Maar ek, ek het nie vir een oomblik gedink dat dit
ons laaste kuier saam is nie.
Toe ons later huistoe ry was ons altwee
stil. Te stil besef ek vandag. By die huis het ons op die stoep getalm. Syt my
haar lidrose gewys wat in malse oordadigheid oortrek was van dubbele pienk en
rooi blomme. Haar varings wat gesond en groen uit hulle potte gepeul het.
Sy het my vertel dat sy al haar kaste
uitgepak en skoongemaak het. Als wat sy nie gebruik nie, uitgegooi het. Hoe
moes ek weet dit was nie net ‘spring cleaning’ nie. Dat sy besig was om gereed
te maak om haar bruidegom te ontmoet nie. Dat die dinge van die aarde nie meer
vir haar saak gemaak het nie. Elke kind se kaartjies,briefies ens is
individueel uitgesoek en in n groot bruin koevert gebere met sy of haar naam
op.
Syt vir my die briefie gewys wat ek vir haar
in die hospitaal gestuur het toe my jongste sus gebore is, saam met die bord
kos wat ek gekook het. “Vir mammie. My eerste poging. Jammer die boontjies het
gebrand. Die pampoen is nie te sleg nie. Tannie Hannetjie het my raad gegee. Van
mammie se groot dogter. Eleen.” Daarmee saam n fyn sakdoekie, waaraan ek met
groot slordige steke n kantjie gewerk het.
Sy het vir ons koffie gemaak en ons het
rustig in haar sitkamer gesit. Die orrel waarop sy elke oggend gespeel het, het
oopgestaan. Die kinders het op haar skoot kom klim en sy het plek gemaak vir
altwee. Syt het Lidus in sy sytjie gekielie tot hy skaterlag en vir Sussie teer
op die groot lint in haar min haartjies gesoen. Het ek my verbeel of was daar
vir n oomblik groot droefheid in haar oë toe sy na my kyk. Toe sy die twee
kindertjies teer teen haar vasgedruk het.
Ek kon daardie dag nie my ry kry nie. Dit
was asof n onsigbare mag my daar by ma se huis wou hou. Ek is bang om in die
donker alleen te ry. Maar die donker het my daar kom kry. In ma se huis, terwyl
ons die hoeveelste koppie koffie drink.
Ek het my handsak opgetel en weer neergesit. Getalm. Ek sou weer in haar huis kom na sy weg is. Maar wat is n huis sonder ‘n moeder?
Ek het my handsak opgetel en weer neergesit. Getalm. Ek sou weer in haar huis kom na sy weg is. Maar wat is n huis sonder ‘n moeder?
Sy het op die sypaadjie gestaan en vir my
gewaai toe ek ry. My oor en oor gemaan om versigtig te ry. Ek het in die spieëltjie
gekyk en haar daar sien staan totdat ek in die hoofpad ingedraai het. Ek het
die motor se noodligte aangesit as laaste groet. My verwonder aan die gevoel
van absolute verlorenheid wat oor my kom lê het.
Dit het gevoel of ek my hart by ma agter
gelaat het. Daardie laaste dag. Naby die huis het ek n yslike uil raakgery. In
trane uitgebars en onbeheersd gehuil van skrik.
Die vrydagaand het ma en pa die kinders
gebring. Hulle was haastig. Syt met die groetslag n bakkie met heerlike bruin
vetkoekies na my uitgehou. “Laat dit goed gaan met jou,” het sy gesê en my teer
gesoen. Die volgende oggend het ma se siel haar liggaam verlaat. Daar langs die
pad naby Louis Trichardt.
Ek het baie keer gewonder wat ek sou doen as
ek moes weet daardie dag, dat dit my laaste kuier by ma was. Sou ek daar gebly
het. Haar dag en nag opgepas het, sodat die engele haar nie kon kom haal nie.
Sou ek voor God gelê het en hom gesmeek het om haar nie so gou al te kom haal
nie.
Maar ons weet en ons ken nie die uur wanneer
Jesus ons kom haal nie. Hier waar ek sit na soveel jare, pyn my hart as ek dink
aan ma en ons laaste kuier saam. Maar ek koester dit in n spesiale kamer in my
hart. Want ek weet...daar bo in die
hemel wag sy vir my. Daar gaan ons mekaar weer in blye weersiens ontmoet. Daar
waar geen afskeid is nie. Waar daar geen laaste kuier is nie.
Ja daar in die Hemel verewig bymekaar.
ReplyDelete