Monday, February 11, 2013

'n Ding met n ring

‘n Ding met ‘n ring

Ek en skoonma kon vir ure kuier.  Ons het ‘n teetjie gemaak. Ons stoele op die klein stoepie by die agterdeur gesit.  Terwyl ons oor die groen vallei agter haar huis in Durban uitkyk het ons kopstukke gesels. So het ek al die donker familie-geheime leer ken. Dinge wat my man en sy suster nooit eers geweet het nie.
So vertel sy my een laatnag van haar ma se tante en die se man “Oompie” wat iewers in die ou Wes-Transvaal op ‘n plaas gewoon het. Die tante het ‘n pragtige antieke ring gehad wat sy nog by haar ma gekry het, wat dit weer by haar ma gekry het. Jare lank in die familie. Behalwe die sentimentele waarde, baie werd in rand en sent.
So vertel skoonma het hulle nog die Desember vakansie vir kersfees na die oom en tante gereis. Met die wa en perde was dit omtrent drie dae om daar te kom. Dit was ‘n heerlike vakansie en sy wat Cornelia was, het haar verkyk aan die yslike knoets van ‘n ring aan die tante se vreeslik opgeswelde vinger. Want het ouma vir haar vertel:die ring sou eendag na haar toe kom, siende dat Oompie en tannie geen kind of kraai gehad het nie. Syt gewens die tannie se vinger was nie so dik geswel nie. Sy sou wat wou gee om die ring net eenmaal aan te pas. Droomverlore het sy voor haar sit en staar, en gedroom van die dag dat die ring aan haar skraal vinger sou pryk. Tog so jammerte dat die ring nie kon af nie.
“Kind,” het ouma vir haar gesê,”as tannie moet sterwe terwyl sy so opgeswolle is, weet ek nie wat ons gaan maak nie. Daai ring kan nie eers afgeknip word nie. Die vinger is te dik geswel. Dit sal darem ‘n jammerte wees as sy met die ring en al die hiernamaals moet binnegaan. Die enigste manier om daardie ring af te kry, sal wees om tannie se vinger af te kap, en dit sal ons nie kan doen nie.”
Skoonma vertel hulle was skaars by die huis toe daar tyding kom dat tannie afgesterf het. Daar is onmiddelik begin met voorbereidings vir die tog terug na Oompie se plaas. Ouma was baie hartseer, maar al wat skoonma aan kon dink...was die ring. Ten einde laaste gaan sy nou die ring kry. Sy het getwyfel of ouma dit dadelik vir haar sou gee, siende dat sy nog nie eers veertien was nie.
Twee dae na tannie se oorlye kom hulle asvaal van die stof en moeg tot op die been op die plaas aan. Oupa het die arme perde gedruk sodat hulle gouer daar kon kom. Van die ander familie kom hulle tegemoet. Die tantes val mekaar om die hals en huil droewig. Ouma snuit haar neus. “Waar is sy? Ons moet haar uitlê en reg kry vir die begrafnis.”
Die ander tannies kyk net stom na ouma en van hulle begin weer opnuut in hulle sakdoeke snik. Op die droewige toneel verskyn Oompie. Stemmig geklee in sy swart pak met die swart rouband om die arm.
“Jong,” sê skoonma, “en toe is die duiwel los. Want, sal Oompie toe te vertel he, hy het tannie klaar begrawe, want dit was glo te warm. Hy was bang die liggaam sou nie behoue bly nie.”
Ouma was stomgeslaan. Sy kon nie glo wat sy hoor nie. Maar wat kon sy doen. Oompie kon seker met sy vrou doen wat hy wil.
Later die middag het al die familie om tannie se graf vergader. Die dominee het ‘n paar woorde gespreek, en toe het die tannies trekkerig weggespring met “Ek sien ‘n nuwe hemel kom....” Party het hardop gesnik. Van die tannies het swaar teen hulle mans of kinders aangeleun.
Hulle was nog nie by...”God self sal by ons bly” nie, toe skoonma sien hoe ouma spierwit word en met geskokte stokstywe oe na Oompie kyk. Skoonma dog eers ouma kry ‘n oorval van smart. Maar toe sien sy ook waarvoor ouma kyk. Sy skrik toe so groot, dat sy haar asem hoorbaar intrek en hardop sê: ”haai nee! O my hemel, mammie het mammie gesien...tannie se ring is aan Oompie se pinkie. Hy moes haar vinger afgeknip het om die ring af te haal.” Ouma druk haar mond toe, maar sy spartel om los te kom, en sê met die eerste asemteug wat sy weer kon vat: ”dis hoekom hy tannie so gou begrawe het...sodat ons nie haar af vinger kon sien nie!”
Skoonma het nooit die ring gekry nie. Van die ander familie het later vertel dat Oompie kort na tannie se dood weer met n jong vrou getrou het. En die lieflike familierfstuk aan haar vinger gesteek het. Of sy gewete hom gery het en of die jong vrou hom klaar gemaak het weet niemand nie. Hy is kort na sy huwelik oorlede. En die pragtige ring vir altyd vir die familie verlore. 

No comments:

Post a Comment