Saturday, November 3, 2012

Die dag van die nonne.

Die Dag van die nonne...

In die hoofstraat van my grootword-dorp, Middelburg staan ‘n klein Roomse kerkie. Om by ouma se huis te kom, moes ons nood gedwonge verby die kerkie loop. Ons was vrek bang, want naas die Engelse en die rooi gevaar uit Rusland was die katolieke die mense waarvoor ons die bangste was.  Die nonne in hul swart gewade was vir ons die verpersoonliking van alles wat boos was..

 

Ek en my niggie [Petro] het eendag al ons moed bymekaar geskraap en by die kerkie wat altyd oop was gaan inloer. Dit was skemer binne en in die gloed van ‘n paar kerse wat voor gebrand het kon ons die nonne sien werskaf. Een het skielik opgekyk en ons gesien. Iets vir die ander gese en omgedraai na ons toe. Sy het ‘n lang blink stok [so het dit vir ons gelyk] in haar hand gehad. Sy het daarmee na ons gewys en vinnig na ons aangestap gekom. Daar was ‘n blink lem aan die punt van die stok.[of so het dit vir ons gelyk]

 

Petro het ‘n woord gesê wat ons diep in die moeilikheid sou kon laat beland.  Ek het gegil, haar hand gegryp en ons het soos een man uitgestorm, die non al roepende agter ons aan. Ons het eers uitasem tot stilstand gekom toe ons by ouma se huis die trappies ophardloop en letterlik met die deur in die huis geval het. Dis toe dat ons agterkom dat ons die sak met inkopies, wel, verloor het. Ons het ewe onderdanig na ma en tant Sarie gestaan en luister.  Net elke tweede woord van die skrobering gehoor. Ons gedagtes was met ander goed besig.

 

Van die dag af was ons nog banger as ooit as ons daar verby loop. Die kinders by die skool het vertel dat hulle gehoor het die nonne steek die mense wat geoffer word met die einste lem wat ons gesien het in hulle harte. Die harte word dan uitgesny en almal moet daarvan eet. Hulle verkies, so het die kind vertel, jong meisies. Virgins. Ons was net baie dankbaar dat ons nog los kon rondloop. Ons ouers sou nie eers geweet het ons is geoffer nie.

 

So loop ons een reenerige dag ‘n week of wat later,  terug huistoe van die dorp af. Die reenwolke laat lyk die wêreld skemer en ons stap vinnig. Ons nader die kerkie. Ons sien hulle gelyk en gaan botstil staan. Twee nonne in hul swart gewade staan by die hekkie en gesels. Ons gryp mekaar se hande vas. “Oh shit” sis my niggie en alhoewel ek dit nie hardop gesê het nie, het ek presies dieselfde woorde in my gedagtes uitgespreek. Ons loop op wankelrige bene nader, maar hou hulle met valkoë dop. Ons het geen planne om op die jeugdige ouderdom van 14 offers te word nie.

 

Die nonne het na ons staan en kyk.  Die een het skielik omgedraai en vinnig die kerk ingeloop. Ons het haastig verby die kerk geloop. Net toe ons die straat wou oorsteek het ‘n stem na ons geroep. Ons het omgekyk. Die non het na ons aangestap gekom. ‘n Bruin papiersak in haar hand.

 

Ons het ‘n [duet-gil] gegee. Met groot oë na mekaar gekyk, en blindelings oor die straat gehardloop.  Die non al roepend agterna. Die bruin sak swaaiend in haar hand. Ons het gehardloop asof n trop wilde honde ons jaag. Maar die non tannie was defnitief in haar vorige lewe ‘n olimpiese atleet of hulle word spesiaal afgerig om so te kan hardloop om virgins te vang om te offer. Want as ons so in die hardloop oor ons skouers gekyk het was sy kort agter ons. Dis met die oor die skouer kykery dat ek my balans verloor en uitgestrek op die teerpad pad geval het.

 

Petro, dierbare ding wat sy is, het dood in haar spore gestop en terug gehol om my op te help. Te laat. Die non het langs ons gestaan. Ek het snikked op die nat pad gesit. My knieë nerf-af en bebloed. Ek was nou so moeg dat ek nie eers omgegee het of sy my gaan offer nie. Maar my niggie was nou vies en het ewe uitdagend na haar staan en kyk. My hand stewig in hare. En ek het gedink, as die tannie weet wat goed is vir haar, gaan sy nie nou verder met ons lol nie. Ek ken die trek op my nig se gesig baie goed, en dit voorspel niks goeds vir tannie non nie.

 

Die non het ons so staan en bekyk en toe uit haar maag begin lag. Syt geskud soos sy lag. Behoorlik dubbeld gevou van die lag. Ek het na Petro gekyk en geweet ons dink dieselfde ding. Nou is die een wat ons gevang het, nog mal ook. Sy het naderhand die trane uit haar oë gevee en toe hou sy die bruinsak na my niggie uit. Die het dit met ‘n agterdogtige trek op die gesig aangevat versigtig daarin geloer. Toe breed geglimlag en die inkopiesak uitgehaal. Ons het na mekaar gekyk en na die non wat ons nog glimlaggend staan en bekyk het. Toe soos een man in ‘n histeriese lagbui uitgebars.

 

Die einde van die saak was dat die gawe non vir ons mooi verduidelik het hoe dinge binne die Roomse kerk werk. Ons het dit nou nie alles verstaan nie, maar wel besef dat hulle wonderlike werk onder die arm mense doen. En dat hulle definitief nie die harte van jong virgins eet of hulle offer nie. In die jare wat gevolg het was ons ‘n paar keer as die lewe gedruk het vasbeslote om nonne te word. Maar my niggie was te lief vir dans en ek het aan engtevrees gely. Geen swart gewade vir ons nie.

 

No comments:

Post a Comment