Tuesday, November 27, 2012

Wat is in 'n huis


Wat is in ‘n huis

Ek het na letterlik elke huis te koop aangebied in George gaan kyk. Die eiendomsagent het my later met dowwe oë aangekyk. Haar glimlag was so vals soos Pamela Anderson se julle weet wat. “Wel daar is nog een huis,” het sy stadig gesê,”maar ek dink nie dit is wat jy soek nie.”  Ons het om die hoek gery en sy het voor ‘n hek stilgehou. Dit was in ‘n ingeleefde buurt met bree teerstrate omsoom deur groot eikebome.

‘n Ouerige huis het ver agter in die erf so groot soos ‘n plot gestaan. ‘n Reuse, reuse Akasia boom het langs die oprit gestaan. Sy takke oopgesprei oor die groot grasprek. Die agent het gepraat, maar ek het nie gehoor wat sy sê nie. Al wat ek raakgesien het was die honderde struike wat woes en mals in die reuse tuin geblom het. Bouganvillas het in trosse uit die bome gehang. Die soet geur van katjiepiering het die lug gevul toe ek in verwondering uit die motor geklim het. ‘n Plaat oranje en geel clivias het onder die bome en struike in die oorgroeide voortuin gestaan.

Drie yslike Jakarandas het trots aan die anderkant van die paadjie gestaan. Ten volle geklee in hul pers kleed. Aan hulle voete het honderde agapantus in vol blom gestaan. Grondbedekkers het ongesnoei en wild onder hulle gegroei. Ek kon sweer ek hoor die feetjies fluister tussen die plate ivys.

Die tuin was ‘n lushof vol kleur en geur. Drie wilgebome het in knus bymekaar gestaan en ek het geweet: daar gaan ek ‘n dammetjie maak. Daar gaan ek wilde boomvarings en broodbome plant.  Daar moet ‘n bankie kom waarop ek kan sit en lees.
Ek was soos Alice in wonderland. Ek het aan die blare van die Australiese wildebessie gevryf. My verkyk aan die ander Akasias wat sonder plan of patroon geplant is. ‘n Digte heining het die erf voor van nuuskierige oë verberg. Aan die een kant en agter die huis het reuse eiekebome in volle groen drag gekleed gestaan. Hulle takke het aan mekaar geraak en ‘n veilige hoekie vir ‘n rustelose siel geskep.’n Regte egte “kersfeesboom” het aan die anderkant van die huis gestaan.

“Hoeveel?” het ek hees gevra. Trane het oor my wange gerol en ek kon sien die agent dink ek is getik.  “Maar jyt nog nie gesien hoe lyk die huis nie?” het sy verbaas gevra. Ek het na haar gekyk en geweet sy dink net in rand en sent. Haar siel verstaan nie, dat jy badkamers kan oordoen en mure kan verf nie. Maar dat dit ‘n leeftyd neem om die paradys te skep. Kon die vrou nie sien dat ons nou binne in Eden staan nie.
Dit was toe duurder as wat ons begroot het, maar ek het maniere om my sin te kry. Eers huil ek, dan word ek stil en dan word ek dikbek. Ek weet nie waarvoor my man die bangste is nie...Maar binne die volgende paar weke het groot trokke die meubels kom aflaai. Het helder kinderstemme die groot erf met sy groen grasperk gevul. Baie ekstra hande het die uitpakkery in n japtrap afgehandel. Die ou familie buurt met sy groot bome langs die strate het ‘n deel van ons geword.
Elke meubelstuk het sy plek in die huis gevind. So asof daar reeds toe die huis gebou is, beplan is vir my meubels. My groot hemelbed het regoor die groot vensters gestaan wat op die groen tuin uitgekyk het.

Onder die matte het ek die pragtigste hout blokkiesvloere ontdek. Die matte sonder seremonie opgelig en weggegee. Geen wit mure vir die huis nie. Die gang is sonskyn geel geverf. Die eetkamer liggroen met vrolike gordyne. Sussie se groot kamer pers en groen. Nuwe verfmetodes is beproef. Pa het nuwe teels in die waskamer en kombuis gesit. My badkamer het ‘n groot hoekbad gekry waarin ma en pa toe nog knus kon pas. Waarin die kleintjies in die familie drie-drie kon bad of sommer maak of dit ‘n swembad is.
Die kinders het ‘n ruim familiekamer gekry met groot vensters en skuifdeure, wat naweke gevul is met hulle vriende. Die ou huis het nie net ons gesin omarm en veilig in sy boesem gehou nie. Dit het die buurt se se kinders se tweede tuiste geword.  Daar was altyd genoeg brood, kaas, konfyt en polonie vir borde vol brood wat gemaak is deur wie ookal honger was. Millie se heerlike etes het op die stoof staan en prut, genoeg vir ons en vir enige een wat wou saam eet. Oupa het groot bakke vol bruin vetkoekies gebak waarvan die kinders nie genoeg kon kry nie.

Saans het vriende sommer gou oorgestap vir ‘n vinnige koffie, of ons na hulle. Na ‘n genoeglike kuiertjie teruggestap onder die maanlig wat sy vriendelike strale oor die bree straat gegooi het.
Afvlerk kinders het soms saans uitgeput van al die moeilikheid by hul ouerhuise en in hul lewens opgekrul op die banke in die familiekamer rustig lê en slaap. Iemand in die gesin sou wel ‘n duvet oor hulle gooi. Tussen snikke deur hulle harte en emosies kom ontlaai omring deur gesinslede wat troos en raad gee. Baie geheime lê nou nog veilig bewaar tussen die mure van die huis.
Op die groot grasperk voor, amper so groot soos ‘n rugbyveld is rugby en krieket gespeel. Ouboet het die bal vêr oor die erf en oor die heining tot in die straat geskop. Die kinders jillend agterna . Fred, ons yslike St Bernard blaffend agter die kinders aan, of rollend saam met ouboet oor die gras. Hy het kleinboet sommer aan sy hemp se kraag beetgekry en oor die gras gesleep.

Die buurt se kinders kon nog heerlik almal saam in die straat voor ons huis speel. Die meisies het skelmpies bymekaar klere en grimering geleen en in groepies geheime gesprekke gevoer. Onder mekaar gegiggel en soms ‘n paar trane gestort.
Die kinders het ook lekker onder mekaar baklei, maar ook geleer om weer te vergewe. Dat vriende en vriendskap kosbaar is en gekoester moet word.
Die dorp se 50cc motorfiets bende het by Lidus kom raad vra. Daar is die probleem bepraat en bewerk totdat die fiets weer kon “rev” en trek soos ‘n sestienjarige wou hê hy moes. Hier het hy ook verlief geraak op die madonna oorkant die pad wat reeds op 15 die seuns laat struikel het met haar bultende bates.
Met verjaardag partytjies het die kinders se vrolike stemme saam met hulle musiek in die naglug opgeklink. Tente is opgeslaan en vure aangesteek vir ouboet se 21st. Ouma het by die tafel gesit en ‘n groot erdeskottel artappelslaai gemaak. Oom Japie het al van vroegdag die skaap op die spit bespuit en gesmeer met allerhande geheime olies en kruie. Met sussie se sweet 16 is die bure vooraf gewaarsku. Groot luidsprekers is opgestel en tot 11 uur het die swetterjoel jongmense geeët, gelag en gedans. Veilig onder die ou huis se dak.
By een geleentheid het Johnny ‘n pak slae vrygespring deur so hoog soos hy kan in een van die groot bome te klim. Daar het hy die hele dag bly sit, met Lidus wat vir hom kos en koeldrank aandra. Die motor het byna van self die pad met sy bekende draaie en bakens gevolg, en ons veilig by die huis besorg.
Oor die alle het Millie ons huishoudster van al die jare die septer geswaai. Sy was die kinders se tweede ma. Hulle het geglo daar is niks wat Millie nie kon regmaak nie.
Kerstyd is ons groot kersboom in die hoek van die familiekamer opgeslaan. Vrolik toegedraaide geskenke het die ruimte onder die boom gevul. Oukersaand het ons om die boom vergader. Kersliedere gesing, die kersverhaal gelees. Persente uitgedeel en weggelê aan die feesmaal wat tradisioneel elke oukersaand voorberei is. Daar was altyd vriende of familie wat die aand saam met ons geniet het. Daar is baie gelag en die kinders se oë het geblink.

Ekstra tafels is gewoonlik in die familiekamer ingedra wat sommer die res van die vakansie daar gebly het. Want die Transvaal familie het kom kuier. Bedags het almal by die see en meer geboer. Saans as die kinders moeg in hulle bedjies gelê het, het die grootmense by die tafel gesit en kaartspeel of gesels. Hope koppies koffie gedrink en genoeg geeët vir die res van die jaar.
Dit was hier waar ons gereed gemaak het vir ouboet se troue met die meisie wat ons so liefgehad het soos ‘n eie dogter. Haar klokkielag het deur die tuin en huis weerklink, en sy kon nie genoeg kyk na die ring aan haar skraal vingertjie nie.

Dit was ook hier waar ons slegs 23 dae later die nuus ontvang het wat die aarde van sy baan laat tuimel het en die maan se glans laat verdof het. Die huis en erf was gevul met die krete van ongeloof en pyn.  Die mure van die huis was die stille getuienis van die stomme verdriet en die magtelose smartlike trane wat snags in die kamers van die huis gestort is.
Toe ouboet terugkom na sy tyd in Amerika het hy duisende kersliggies saamgebring. Hy en kleinboet het die huis en tuin in ‘n towerwereld van derduisende flonkerende liggies omtower. Stringe motors het saans in die straat gestop en mense het in die towertuin kom rondstap. Die kinders van die buurt het stil, heeltemal teen hul rumoerige aard in, op die gras kom sit. Saggies onder mekaar gesels, so asof hulle bang was om die magiese atmosfeer te versteur.

Dit was ook hier waar ons die nuus moes verwerk dat 4 van ons vriende op ‘n plaas vermoor is. Van Mynhardt se broer wat deur ‘n kragkabel doodgeskok is. Ek het koppies trooskoffie aangedra na my hartseer vriendin wat in ‘n bondel in my mooi, rustige sitkamer gesit het. My vriendin wat verkrag is het kom koffie drink. Haar mond het gelag maar in haar oë en haar bewende hande was die verskrikking van wat gebeur het duidelik sigbaar.
‘n Jong vriendin wie se verloofde onder die vermoordes was het in my tuin kom sit. Haar groot blou oë was blink, maar sy het nie gehuil nie. Net in haar sagte stem vertel hoe sy nie kan sin maak uit dit wat gebeur het nie. Vir my sy briewe en gedigte aan haar kom voorlees. Ek het net geluister en sag aan haar hand geraak, want ek het geweet geen woorde kon haar troos nie.

Pierre die oorgewig, arm ryksmanskind het gereeld sy hart by ons kom leegmaak. Troosteloos sit en huil oor sy bedorwe ma wat sommer eensklaps besluit het hy moet by sy biologiese pa gaan woon wat hy in 15 jaar nooit gesien het nie. Die lewe by sy grootmaak pa vir wie hy baie lief was opgee. By sulke geleenthede het ouboet hom gegryp en op die gras met hom gaan stoei. Ek hoor nog sy skaterlag oor die grasperk opklink. Die bewondering in sy oë vir ouboet se brute krag. Die lekkerte om iewers te behoort al is dit ook net vir paar uur.

Hier het sussie se bewonderaars vir haar ringe in mooi dosies op haar vensterbank gelos, wat sy maar weer moes teruggee. Hier het sy verlief geraak op haar huidige man, al is hulle jare later na vele onderstrominge eers getroud. Hier het sy die grootste gedeelte van haar lief en leed jare deurgebring. Ure voor die klavier in haar kamer gesit. Drome gedroom oor haar toekoms. Menige jong seun in die buurt se hart gebreek omdat sy eerder haar lewe wou geniet as kys. Saam met haar vriende gelag en gekuier. Veral met Lelanie wat soos ‘n dogter in die huis was.
Lelanie se ma het MS. Saterdae as haar man gholf speel het sy koffie kom soek. Een strook deur gesels en gelag. Soms hartseer geraak omdat sy bang was sy gaan nie haar dogters sien groot word nie. Dit gaan nou baie sleg met haar. Hul woon in Amerika en sy kan nie meer praat nie. Maar haar helder lag klink nog in my sitkamer in die ou huis. Ek sien haar nog op die klippe by die visdam sit en lag, soos die aand op sussie se sweet 16 toe ons tot byna dagbreek buite gesit en gesels het.

Rudolf se groep vriende uit Amerika het daar kom oorslaap die aand voor hul vertrek. Toegebondel in slaapsakke teen die Kaapse koue. Die vorige aand het ons vir hulle ‘n tipiese suid-afrikaanse ete voorgesit. Wildsboud, bobotie, pampoensop, pampoenkoekies met sous, gebakte patats, elke lekkerte waaraan jy kan dink.
Die volgende oggend het ons vir hulle ‘n 5 ster ontbyt gemaak. Oupa het in die kombuis gestaan en heerlike bruin gebrande vetkoekies gebak. Dit was ‘n wenner. Sakke vol is saamgeneem om op die vliegtuig te eet.
Die paddas in die dammetjie het so geraas dat pa en Burt saans opgestaan het om dit te vang en in die rivier daar naby te gaan gooi. Maar die volgende aand net sodra ons lekker snoesig onder die komberse gele het het die paddakoor soos een man losgetrek..Dan spring hy en pa op en ek gil agterna:”julle doen niks aan my paddas nie!!!”
Jy bou ‘n woning met sand en steen en sement. Die argitek trek na vele beplanning vir jou n plan op en die bouer wyk nie daarvan af nie.

Maar ‘n huis word gebou met herinneringe. Met mense en emosies. Onbeplande vreugde en verdriet. Kinderstemme wat lag en gesels. Goeie en slegte dinge wat oor jou pad kom.
Die dag toe ons die huis verkoop het ek gesê dat ek nie eers gaan terugkyk nie. Dit was ‘n grou winterdag toe ek vir ek vir ‘n laaste keer die lang oprit afgery het. Die skadu van die reuse akasia het vir ‘n oomblik op my motor gehuiwer. Die Jakarandas se stamme was kaal. In die visdammetjie het die paddas gekwaak. Die agapantus se blomme was af en die geel en oranje gousblommetjies het die middelbedding omsoom.

Mynhardt het langs die straat met sy fiets gestaan. Ek het deur my trane vir hom gewaai. In die spieëltjie gesien hoe hy my motor agterna kyk. Toe het ek my flikker aangeskakel en links gedraai. Die vreemde pad na my nuwe vreemde huis geneem.

Met ons laaste vakansie in die Kaap het ons voor die huis gaan stilhou. Die meeste van die bome is uitgehaal. Die tuin is verwaarloos. Daar hang ‘n troosteloosheid oor die plek.
Ek het my oë gesluit. Helder kinderstemme het die tuin gevul. ‘n Groot hond het opgewonde geblaf. ‘n Motorfiets het gebrom. Ek kon die vetkoekies wat in die kombuis gebak word ruik. Millie se stem wat die kinders vermaan. Die helder klanke van ‘n klavier het na my aangewaai gekom. Ongestorte trane het my oë gebrand.
Burt het die motor aangeskakel en ons het weggery. En n leeftyd daar agter gelaat.

1 comment:

  1. Dis net soos ek Protea straat 08 onthou. Ma het net nie genoem van my 2 slaapkamer woonstel/bikeshop wat pa agter die huis spesiaal vir my laat bou het nie. Min kinders het sulke goeie ouers soos ons 5 Blaesertjies..

    ReplyDelete