Die straf
So kuier ek weer die naweek by my vriendin
Annemarie op die plaas. Ons besluit al in die bus op pad plaas toe ons gaan
dadelik ons huiswerk doen. Daar aangekom vaar ons die vlaktes in en dus geen
huiswerk nie. Saterdag-oggend is dit dorp toe, daarna tee by vriende saam met
haar ouers. Om ‘n lang storie kort te maak..teen sondagaand was daar nog nie ‘n
steek huiswerk gedoen nie.
Sondagaand onthou ons met ‘n skok dat ons
more-oggend ons naalwerk moet ingee vir punte. Juffrou Barnard het dit spesiaal
huistoe gestuur vir die doel. Ons kyk met groot oë vir mekaar. “Môre, maak ou
Barnard ons dood, geniet maar jou laaste aand op aarde,” sê my vriendin en
verberg laggend haar gesig in haar halfklaar babarok. Wel daar was geen manier
hoe ons nou die rokke kon klaarmaak nie. Na baie beraadslaging besluit ons om
dit by die huis te vergeet.
So op die maandag was die gewoonlik sagte
juffrou nie lus vir ons streke nie. Sy’t ons sonder omhaal elkeen aan ‘n arm
gegryp en in die huishoudkunde sentrum gaan toesluit. “En julle kry nul.” het
sy nog vir oulaas kwaai oor haar skouer gesê. Binne minute het ons vergeet
waarom ons daar was. Ons het elke oomblik geniet. Ek het op ‘n stukkie papier
geskryf: “Hier sit ons nou alleen, met net die huishoudkunde mure om ons heen.”
Ek het dit vir my vriendin voorgelees en ons het histeries gelag. Ons het
beurte gemaak om juffrou na te maak en lawwe liedjies gesing.
Die klok het gelui en ons vriende het by die
vensters met ons kom gesels. Dit was so geraas dat juffrou binne minute agter
ons gestaan het. Haar groot groen oë het geblits. Sy’t ons onsag in die skemer
stoorkamer ingedruk en die deur gesluit. Ons het op die koue vloer gaan sit en
gewonder of dit nie teen die wet is nie. Maar dit sou nie help om te kla nie,
nie een van ons se ouers sou enige simpatie met ons he nie..inteendeel.
Later het ons honger geword. Die groot yskas
was gestock met karamel kondenmelk en room. Koekies het op die kas gestaan. Die
groter kinders sou seker tert of iets maak. Ons het ‘n yslike ‘tert’ gemaak en
dit sonder seremonie opgeeët. Southappies wat ons later sou uitvind vir die
personeelvergadering na skool bedoel was, het hul pad in ons kele afgevind. Ons
was lankal nie meer honger nie. Ons oë was stokstyf in ons koppe en my vriendin
was net so naar soos ek. Maar ons het nie gestop voor elke krieseltjie opgeeët
was nie.
Ons was nie meer lus vir lag en gesels nie.
Lusteloos het ons op die koue vloer gesit en net na mekaar gekyk. Gewens dat
ons maar liewer die rokke klaargemaak het. Gewens dat ons liewer dood was.
Skielik het ons ‘n skaduwee onder die deur gesien. Dit het stil gestaan en dan
weer beweeg. My vriendin het die besem gevat en onder deur die deur na die
skaduwee geslaan. Daar was ‘n harde uitroep en ‘n lelike woord wat glad nie by
‘n juffrou pas nie. Syt vir juffrou raak geslaan.
Die deur is oopgeruk en juffrou Barnard het
daar gestaan. Sy was woedend. Met blitsende oë het sy na ons gekyk..en toe het
sy die wanorde in haar netjiese stoorkamer raakgesien. Die lee blikkies en
houers. Besef ons het haar keurig voorbereide canapés als verorber. Juffrou het
probeer praat, maar haar asem was weg. Sy het haar oë toegemaak. Hulle weer
oopgemaak en gesien sy het gesien wat sy gesien het...En
wat sy gesien het, was nie ‘n nare droom nie, maar die werklikheid.
“Julle ellendige kinders, staan dadelik op,”
het sy naderhand deur haar tande gesis. Ons wou, maar ons kon nie. Syt my aan
my arm opgeruk. My hardhandig vorentoe gestamp. Ek was nie eers verontwaardig
nie, eerder dankbaar dat sy ons nie daar op die plek vermorsel het nie. Die
stamp was egter nie so goeie ding vir my oorvol liggaam nie, want ek dink die
kos het in elke vesel gesit. My maag was net te klein vir alles wat ons geeët
het.
Toe juffrou stamp, sê my maag:” tot hiertoe
en nie verder nie.” Wel al wat ek kan sê is, so naar was ek nog nooit weer nie.
My vriendin het net ‘n baie aardige kreun geluid gemaak en my voorbeeld gevolg.
Die res van die dag het ons met koue lappies
op ons koppe in die siekekamer gelê. Ons het te sleg gevoel om grappies te
maak. Juffrou het kom inloer.Haar hand was koel op ons warm voorkoppe. Syt nie
gepraat nie, so dalk het ek my net verbeel dat ek ‘n sagte glinstering in haar
oë gesien het.
No comments:
Post a Comment