Thursday, October 4, 2012

Die dag toe ma weg is.


 
 
 
Die dag toe ma weg is.         3 Oktober…..

Dit was ‘n dag soos elke ander dag. Die son het buite geskyn. Ons het gelag. Tog was ek rusteloos.  Hier gevat en daar gelos.

Die vorige aand was ma-hulle by ons. Toe ons groet het sy onthou van die bakkie tuisgemaakte vetkoekies wat sy saamgebring het. Sy het dit vir my gegee. Net voor sy in die motor klim omgedraai en gesê: “Laat dit goed gaan met jou.” Het ek my verbeel dat daar ‘n vreemde trek in haar oë was. So asof sy dalk geweet het dat dit ‘n laaste groet is.  Ek het hulle agtena gekyk.. Sy’t nog vir oulaas omgedraai en gewaai.  ‘n Bree glimlag op haar gesig. Ek het teruggewaai.

Die telefoon het gelui. Dit was pa...hy wou met Burt praat. Ek het na hom gekyk en gesien hoe sy gesig verstyf, hoe die kleur sy gesig verlaat. Hy het na my gekyk, skok in sy oë. Skrik het my lyf vol kom lê.  Deur stywe wit lippe het Burt die nuus meegedeel.

Pa-hulle was in in ongeluk naby Louis Trichardt. Hy het nie seergekry nie. Ma was in die hospitaal opgeneem. Ek het dadelik gebel. Die dokter se stem was emosieloos en koud. Sy’t breinbeserings, dit lyk nie goed nie. Asseblief plaas haar dadelik oor Pietersburg toe het ek gevra.

Vyf minute later het ek weer gebel. “Sy’s weg,” het die stem gesê. “O, het julle haar oorgeplaas,” het ek gevra. “Nee,” het hy gese,”sy’s dood, die brein het te seergekry.” Dit was asof hy oor die weer gepraat het.

Die telefoon het uit my hand geval. Ek het uitgehardloop en na Burt geroep. My bene het onder my ingevou en ek het op die grond neergesak. Burt het my opgetel en ingedra.

Toe het ek na die kinders en my suster se betraande, geskokte gesigte gekyk. ‘n Doodse kalmte het van my besit geneem. Ek is die oudste. Ek moes hulle troos. My sussies was maar 16 en 17. Vir my kinders was ouma ‘n tweede ma.

Ons het dadelik Potgietersrus toe gery. Die kinders het verslae in ouma se huis rondgestaan. Ek het na die orrel gekyk wat sy nooit weer sou speel nie. Haar welige plante wat sy nooit weer sou natgooi en geniet nie. Deur die huis geloop. My gesig in haar japon gedruk wat nog na haar geruik het. Gevoel hoe my hart in stukke breek.  Hoe ‘n groot gat in my lewe verskyn wat deur niks gevul kan word nie.

Ek het haar naam saggies oor en oor genoem..”ma, mammie.” Maar dit was stil. Soos die klere in haar kas wat sy nooit weer sou dra nie.  Soos die bybel langs haar bed wat sy nooit weer sou lees nie.  Ek kon haar hoor sing. “I’ve got a mansion just over the hillside, in that bright land where you’ll never grow old.”

Die telefoon soos ‘n outomaat beantwoord en weer en weer en weer vertel wat gebeur het. Gewonder hoekom mense nie maar kan wag tot later met die uitvra nie.

Later het ek en Burt gery om pa te gaan haal en ma uit te ken. Pa het ons verslae ingewag. Die hartseer het soos ‘n mantel om hom gelê. “Die ambulans het eers na amper ‘n uur opgedaag, die ambulans het te laat gekom.” het hy oor en oor gesê.

By die polisiekantoor het hulle ons simpatiek ingewag. Ek het woordeloos my ID boekie aan die sersant oorhandig.  Soos n droom agter hom aangeloop na die lykshuis. Soos iemand onder verdowing gestaan en kyk hoe hy die laai ooptrek.

Ma het daar gelê. Die blink hare krullerig om haar gesig wat nou wit en styf was. Daar was skok op die mooi gesig.  Ek het langs die laai gekniel en aan haar gevat. Sy was so koud, so koud. Sy wat mens altyd in haar warmte en liefde kon toevou. Ek het my kop op haar bors gesit en gehuil. Gehoop die mollige arms sou my toevou en troos. My trane het op haar gedrup. Maar sy het net bewegingloos daar bly lê.

Want dit was maar net ma se beseerde liggaam wat daar gele het. Haar skoon rein siel het reeds in die hemel gejuig. Daar waar sy vir ewig gaan lewe.  Daar waar daar geen pyn en leed is nie. Waar daar geen trane en teleurstellings is nie.  Want “To die is to be with God.”

Ek wou haar nie laat gaan nie. Ek kon nie. Ek het aan haar vasgeklou totdat hande my met geweld weggetrek het.  Die pad huistoe het soos in n waas verby gegaan. Die enigste ding waarvan ek seker was, was die feit dat my lewe soos ek dit geken het vir altyd verander het.

Ma was my beste vriendin, my vertroueling. Die enigste mens wat ek ten volle kon vertrou. Die een wat deur al die goed en swaar daar was vir my.  Ek het sonder om te sien deur die motorvenster sit en kyk.  Besef sy het geweet, ek weet nie hoe nie, dat sy weg sou gaan.

Weke tevore het sy my gebel en gevra ek moet haar kom sien. My toe laat belowe dat ek na my twee klein sussies sou omsien as sy iets oorkom. Ek het belowe, maar dit ook afgelag. Sy was 47..mens sterf nie op 47 nie. Sy was gesond en vol lewe..

Later sou ons hoor dat sy al haar vriendinne en susters gebel het in die twee weke voor sy weg is. Vir elkeen het sy ‘n boodskappie gehad.  Hoe wonderlik moet dit nie wees om so gereed te wees as die engele jou kom haal nie.

Vir baie lank het ek oor ma getreur. Ek wou nie inkopies doen nie want ons twee het so lekker geshop.  Ek het in ‘n winkel geloop en skielik besef ek huil. Ek kon nie na haar fotos kyk sonder dat my hart wou breek nie. Daar was geen medisyne of troos vir my gebreekte hart nie.

Een nag het sy in ‘n droom aan my verskyn en gesê ek moet ophou treur oor haar. Sy het daar in ‘n glansende wit kleed gestaan, en wou nie dat ek aan haar raak nie. Sy’t my verseker dat sy altyd daar sal wees vir my. En deur die jare het sy my gewaarsku as gevaar dreig. Het ek helder haar stem gehoor.

Vandag is dit 25 jaar dat sy weg is. Ek het deur die jare baie keer haar nommer geskakel maar haar stem was vir ewig stil.  Maar in my hart sal ma altyd lewe. As ek verkeerd optree sal ek haar vermaning in my gedagtes hoor. Want dit wat sy agter gelaat het sal vir altyd by my bly.  Liefde en Eer was haar kleed. Tot ons weer ontmoet mammie.

No comments:

Post a Comment