Tuesday, August 7, 2012

Gaste vir ete (1972)


Gaste vir ete [1972]

“Julle moenie omkrap nie,” sê ma een vrydagmiddag en vervolg terwyl sy met die potte besig bly, “ons kry mense vir ete.” My moed sak in my skoene. Dit  gaan nou weer net ‘n ekstra gewerkery afgee. Nog voor ek kan vra wie die gaste is, sê ma so half terloop...”O dit is pastoor Dysan-hulle.”

Ek verstik in my koffie en ma klop my eers op die rug. Toe ek weer asem kan kry sê ek geskok: “Nooit...... mammie jok seker!”  Ma is ‘n sagte vrou maar moenie te veel met haar lol nie. “Kyk dat die sitkamer netjies is, en kom dek tafel, en hoekom sal ek jok?” sê ma, kalm soos altyd, maar die kyk in die bruin oë, is waarskuwing genoeg vir my om maar eerder stil te bly. My broer trek vir my groot oë en trek sy skouers op. Maak hom uit die voete voor ma vir hom ook iets kan uitdink om te doen,

Ek vee so hier en daar met die stoflap oor die meubels. Ek dink terug aan die dag toe ons Pastoor Dysan en sy familie ontmoet het. My ouers het in hulle vrye tyd sendingwerk gedoen onder die “swart en bruin mense.”  “Gee jou een raai wat ons alweer op die saterdag-middag moet doen?” het my broer dramaties gevra. My moed het in my skoene gesak. “Ek weet nie wat jy gaan doen nie, maar ek gaan jeug toe by die kerk.” het ek vermakerig gesê.

“Slegte nuus ou Lena kepena...jy gaan nie. Pa het gesê almal...en ek bedoel ons almal...gaan vanmiddag traktaatjies by die nuwe “kleurling-gebied” uitdeel en sommer die nuwe “kleuring” pastoor ontmoet.” Ek het nie eers probeer teestribbel nie...teenstribbel is nie geduld nie. So het ons agt kinders en pa en ma die saterdagmiddag in die stofstrate loop en traktaatjies uitdeel. Die mense het hulle verkyk aan ons. Ons het mooi geglimlag en ieder en ‘n elk vriendelik gegroet. Ma het sakke vetkoek wat sy gebak het aan die kindertjies uitgedeel wat dit verslind het.

Die pastoor en sy gesin het in een van die nuut geboude huisies gewoon. Die oom het ons met ‘n stewige handdruk gegroet. Later sou ek hoor hy is ‘n man met 3 grade en was ‘n bestuurder by ‘n fabriek in die Kaap en die tannie ‘n onderwyseres. Nou het hulle sonder ‘n salaries die werk van die Meester gedoen.

Die Dysan-kinders het teen een muur van die piepklein, pynlike netjiese sitkamertjie gestaan..en ons teen die ander. Ons het mekaar wantrouerig beloer. Die klein skraal tannie het oor haar skilpaddop-bril vir haar kinders gekyk.  “Ma wat wou Regina,” het sy vererg gesê, “vat vir Eileen en gaan wys ha jou kamer” “Julle ander kinders kan almal buite gaan speel. Ek bring koeldrank.

Regina en haar sussie se kamer was propvol met ‘n dubbelbunk-bed en ‘n hangkas. Sy het ‘n klein radio uit die kas gehaal en aangeskakel. Ons bene en koppe het outomaties op die maat van die musiek begin skud en swaai. Ons het begin gesels...twee 15jariges…so verskillend en tog so dieselfde. Die een wit en die ander bruin. Gepraat oor klere, die skool, ouers wat ons nie verstaan nie...en natuurlik..seuns. Sy het my vertel haar nefie is niemand anders as Richard J Smith nie. “Nooit, Regina, hoe groovy is dit.” het ek grootoog gesê.  Sy het ‘n ongelooflike sin vir humor gehad en ons het teen mekaar gelê van die lag. Skelm vir my ‘n paar danspassies gewys. Haar oë dramaties groot gerek, “Oe as die pastoor my nou sien.is dit tiekets met my,” het sy gesê, maar so asof sy nie regtig bang was nie.

Die tannie het ons kom roep en kon sweer ek sien verligting in die groot bruin oë toe sy ons so laggend aangtref. ‘n Feesmaal het vir ons gewag. Rotis met kerrie en gewone vleis. Bruin gebraaide koeksiters in ‘n vreemde sous...ek kan nie eers als onthou nie. Al wat ek weet ons het ons trommeldik geeët. So dat my ma naderhand vir my broers moes groot-oë trek. Ek het skelm twee koeksisters in ‘n servet toegedraai en in my sak gesteek. Toe ek opkyk het die tannie glimlaggend vir my sit en kyk. Ek het bloedrooi gebloos, maar sy het net een groot bruin oog vir my geknip.

So het ons deel van mekaar se lewens geword. En nou kom hulle vanaand hier eet. Een van my vriende kom later die middag daar aan op sy fiets. Ons staan sommer by die hek en gesels. “Kom jy vanaand jeug toe?” vra hy. “Nee ons kry mense vir ete,” sê ek sommer weer vies. “Wie ?” vra hy en balanseer op sy fiets. “Ag sommer mense,”sê ek. “Komaan, wat gaan met jou aan, is dit nou dalk ‘n geheim of wat, wie is die mense?” hou hy aan.

Ek kyk na hom, trek my hele 5vt lyfie regop en lig my ken parmantig. “Nouja as jy moet weet, dis ‘n pastoor en sy gesin,” en na ‘n oomblik se wyfeling se ek sag, so asof ek bang is iemand hoor,” hulle is nie wit mense nie, hulle is bruin mense.”

“Jy flippen lieg seker,” sê hy geskok en se dan dood ernstig:” Dis teen die wet hoor, jou pa gaan in die tjoekie beland. Ek weet! My oom is in die polisie. Net verlede week het ek gehoor hy vertel vir my pa van die man wat hulle in die tjoekie gegooi het, oor dieselfde storie. Mens mag net wit mense nooi om vir jou te kom kuier.” Hy skop-skop teen die klippies, sê dan: “Shit, dit is nou ‘n helse gemors. Ek is bly eks nie jy nie.”

Ek voel nou bang. My hart begin vinnig klop en my ore suis. Wat as hulle my pa in die tronk gooi? My vriend kyk my met groot ernstige oë aan. “Miskien gooi hulle julle nog almal in die tronk.” Ek word kwaad, juis omdat ek nou so bang is. “Moenie simpel wees nie, kinders kan nie tronk toe gaan nie. En hoor hier, my pa sal niks oorkom nie. Dis vir die kerk en dan mag mens sulke mense nooi. Ek het gehoor toe die grootmense praat. Kry liewer jou ry. Ek moet my ma gaan help.” Ek kyk hom nors en onvriendelik aan. In my hart is ek baie kwaad vir my ma. Gaan die ete nou veroorsaak dat ek en my maat van baie jare nou kwaaivriende word. My oë brand en ek sluk die trane swaar weg.

Ons kyk mekaar ‘n hele rukkie stip in stilte aan. Hy swaai sy fiets vererg om en daar gaan hy. In die ry skree hy nog:” Laat weet maar as ek met die kettie vir jou moet kom peanuts deur die tralies inskiet.” Ek skree terug: “Ja en hardloop en gaan vertel nou vir die hele wereld. Klikkie klikkie klikbek, val van die trap, breek jou nek. Se vir jou ma dis ek.” Toe ek opkyk staan my ma op die stoep. Vadoek in die hand. Sy sê net niks, maar die uitdrukking op haar gesig spreek boekdele.

Die hemel het nie op ons geval nie. Die polisie het nie my pa kom vang of ons kinders in die kindertronk gegooi nie. Ons het tot laataand heerlik saam met oom en tannie Dysan en hul goed-gemanierde kinders gekuier. Die oom het ons laat skater van die lag met al die staaltjies oor die Kaap se mense. Die Dysan-familie en ons was vir jare vriende. Oom Dysan is jare later omgery deur ‘n dronk-bestuurder wat oor ‘n rooi robot gery het.
Ma was reg...al het ons verskillend gelyk...was ons maar dieselfde.

Sunday, August 5, 2012

Die onwelkome bedmaat


Die onwelkome bedmaat

Jare gelede het ons aan ons huis laat werk.  Op ons vriende Katinka en Daan se uitnodiging trek ons toe die groot karavaan onder ‘n yslike maroelaboom, op hul plot buite Pietersburg.

Ons het baie lekker gebly. Die aande was soel en warm. Hulle het my leer veerpyltjie speel en ons het tot in die oggendure gesit en kaart speel. Honderde koppies koffie gedrink, baie gelag en meer geeët as wat ons moes.

Een nag laat ,na ek weer verloor het met die kaartspelery, besluit ek om maar solank te gaan slaap. Dit was nog in die veilige dae. Ek stap sonder vrees onder maanlig na die karavaan onder die boom. Sonder om die ligte aan te skakel, trek ek my japon uit en klim vaak in die bed. Dis toe ek op my sy draai dat ek besef hier is fout...groot fout.

Ek weet nie of ek hom eerste geruik het of gevoel het nie. Maar die volgende oomblik besef ek: hier is iemand in my bed. Toe die iemand in die donker opspring en ek sien hier kom die arms.toe gil ek. My oë was nou gewoond aan die donker. Ek en ‘n donker gedaante kyk mekaar in die oë. Ek gil en hy skree. ‘n Onaardse geskree wat die dooies sou laat opstaan. ‘n Geskree wat ek dink nou nog oor die vlaktes weerklink. Sy geskree spoor my stembande tot hoër hoogtes aan...en ek gil!!!

Toe breek chaos los. Ek spring met een haal uit die bed. Die yslike Perinese berghond wat buite le en slaap het, storm met ‘n geblaf en gegrom in die karavaan in. Die swart gedaante probeer by die hond verby kom. Met ‘n onaardse gegrom duik hy die indringer plat en gaan staan oor hom. Die het nou so groot geskrik hy kyk net met rollende oë na die yslike kwylende bek hier bo sy gesig. Skoon lam van die skrik. As hy net ‘n beweging maak, grom die hond iets vreesliks. Met lam bene staan ek net en kyk. Nou skoon stil van skok.

Burt en die vriende storm die karavaan in. Gaan staan eers stil van verbasing. En toe gil my vriendin. Sy druk haar hande langs haar gesig en gil...!!Van skone skok oor haar angswekkende gegil, begin ek ook weer gil. Ons kyk mekaar met groot oë aan en gil. Ek staan vasgedruk in die hoekie want die hond en die indringer versper die pad. Burt trek my sonder seremonie tot by hulle en gee my ‘n paar rukke sodat ek kan kalmeer. Daan druk Katinka se mond toe. Sy vererg haar so daaroor dat sy skoon vergeet om te skree.

Burt en Daan maak die ou op ‘n stoel sit en hou oor hom wag. Die telefoon is buite werking en ek en Katinka jaag teen ‘n vreeslik spoed dorp toe. In die kar kyk ons met groot oë na mekaar en snik hardop. Gee mekaar se hande ‘n drukkie asof ons wil sê: wees sterk vriendin, ons sal deur die vreeslike ding kom.

Die arme konstabel aan diens wou seker agterna uit die mag bedank. Hy het by die deur gestaan toe ons instorm. Ons gryp hom aan die arm. Terwyl ons altwee gelyk praat trek ons hom buite toe. Hy moet nou op die daad die skelm kom vang. Hy beur verskrik terug. Probeer praat maar kry nie ‘n woord in deur ons deurmekaar gepraat nie. Gelukkig vir hom en vir ons verskyn die Sersant aan diens. Hy het seker voorheen kennis van histeriese vrouens gehad, want binne sekondes staan ons ewe kalm en vertel die storie. Hy bekyk ons ewe ernstig, vra of iemand beseer is, of daar enige bloed is? Ons skud ons koppe. Hy draai om en vroetel met ‘n klompie leers. Maar eks seker sy skouers het geskud soos hy lag.

Die sersant ry agter ons aan plot toe. Daar aangekom sit my bedmaat nog ewe op die stoel. Burt en Daan wakende oor hom. Ek sien hy het ‘n snaakse grys uniform aan. Dis toe die sersant sy hand wil vasboei om hom weg te vat toe ek dit sien: ‘n wit bandjie om sy gewrig. Ek wys dit vir die sersant. Hy lig daarop met sy flits. Daar staan dit toe. Sy naam en pasient nommer en die naam van die Psigiatriese Hospitaal waaruit hy ontsnap het.

Wat sou gebeur het as die hond nie ingestorm het nie, weet ek nie. Eks maar net baie dankbaar hy het.


Saturday, July 21, 2012

Aand-rituele


Aand-rituele

Wanneer pa saans by die huis gekom het, het ons uitgestorm en hom gegroet asof ons hom ‘n jaar laas gesien het. Dan het die een wat die naaste was sy kosblik gegryp om te kyk of daar nog werksbroodjies oor was. Wat was dan nou lekkerder as so sagte tamatiebroodjie? Pa het sy vuil vol sement-skoene by die agterdeur uitgetrek en vir ma gesoen.

Na ete [altyd aan tafel], het die wie se beurt dit was opgestaan, tafel afgedek en skottelgoed gewas. Dan het pa die bybel gevat en het ons huisgodsdiens gehou. Teen daai tyd was ons al moeg, want ons het heeldag gespeel, skoolwerk gedoen en almal het in die huis gehelp. Ons het nie ons dae voor die rekenaar of televisie omgesit nie. Pa het lank gelees. En ook nie van Adam en Eva nie...nee die sendbriewe van Paulus en oor die anti-chris en ‘n bees met sewe koppe. Ons het hard gekonsentreer want na die lees het pa altyd vir een van ons gevra: ”En waaroor het ek gelees?” Waarop een en almal dieselfde antwoord gegee het: “Van Liewe Jesus, pappa” Want ons kon nie meer onthou of die bees ses of twaalf koppe gehad het en of Paulus Damaskus of Paradys toe gereis het nie.

Daarna het ons gebid. In die ry af, wat beteken het ek moes eerste bid. Wat eintlik ‘n goeie ding was, want nou kon ek eerste die onderwerpe kies om oor te bid. En die ander 7 moes maar vat wat oorbly. Gewoonlik het ek begin deur dankie te sê vir ma en pa en boeties en sussies. Vir kos en klere. Dat ons almal gesond is. Ek kon in my gedagtes sien hoe die ander sug...want ek het min onderwerpe vir hulle oorgelos om oor te bid. Elke aand het ek ook gevra dat “Asseblief Jesus, gee tog dat Dolf my ophou terg” [my broer het my elke dag geterg totdat ek huil}. As dit dan my broer se beurt was het hy weer gevra dat ”Jesus hom tog moet help om nie vir Lien te terg nie” en partykeer onder gebed aan die lag gegaan. Ek dink ons het almal van dankbaarheid gesug as die kleinste sussie ten eiende laaste klaar gebid het.

Die ander kinders het in die bed gaan klim en ek het plat in die gang gaan sit en vir hulle uit die bybel gelees. Een vir een het die egalige asemhalings uit die kamers opgeklink, totdat die laaste Groblertjie rustig aan die slaap geraak het.

Teen die tyd het my ouers klaar hul aandteetjie geniet. Ma is kamer toe en pa het die sitkamer deur agter hom toe gemaak. Nie lank nie en jy kon sy mooi diep stem [hy het nes Ge korsten gesing] hoor opklink in gebed. Die stem het opgestyg tot by God se troon in ootmoediging en algehele afhanklikheid. Soms het jy daar gelê met woelinge in jou hart, maar onder pa se gebed het jou hart stil geword en het jy rustig aan die slaap geraak.

Daarna het pa deur die huis geloop en seker gemaak alles is toe en gesluit. By elke kind se bed het hy stilgestaan en die komberse snoesig opgetrek en om jou gevou. Snags as jy koud en styf wakker word, en te lui was om jou toe te gooi, sou jy maar weer aan die slaap raak..want in jou tussen slaap en wakker toestand sou jy weet...pa gaan my tog netnou weer kom toegooi. Want in die na-nag het pa weer opgestaan om sorgsaam die komberse oor jou te kom trek.

En al was daar nie geld vir luukshede in die huis met die rooi sinkdak nie. Al moes ma mooi bereken en beplan. Al het ons soms goed onder mekaar baklei en gewoel. Het ons geweet. In ons huis was liefde. En dit is tog die grootste van alles.

Wednesday, July 18, 2012

Verlore drome

Verlore drome
So sit ek en ma een nag in die hospitaal by my siek kind se bed. Ma sit met die mooi hande ineengestrengel op haar skoot. Uiterlik die toonbeeld van kalmte. Die brandende oë vasgenael op die siek kind se rooi van die koors gesiggie vertel ‘n ander storie.
Ek kyk na die tyd en sien dat ek oor ‘n paar uur sal moet gaan werk. Asof ma my gedagtes gelees het êe sy: “Jy moet al amper gaan werk.” Dan kyk sy na my met daai sagte bruin oë en sê: “Ek sou ook as ek kon kies bly werk het na my troue.” Ek kyk met algehele verstomming na ma. “Ek was mos voor my troue ‘n boekhouer by die Jood se meule.” sê sy dan. “Maar pa wou nie hê ek moes na ons troue werk nie, en toe het ek julle kinders so na aanmekaar gehad.”
Vir ‘n hele ruk sit ek net daar en kyk na haar. Ek sien die mooi hande wat kan bak en kook. Wasgoed was en huis skoonmaak. Skoolboeke oortrek. Knope vasmaak en skoene politeer. Wat soggens as die hele huis nog slaap orrel speel en saamgevou word in gebed. Hare in netjiese vlegsels of poniesterte wat doer staan kan bind. Hande wat salf aansmeer en pleisters plak. ‘n Hartseer kind vertroostend teen haar bors  vasdruk. Hande wat net sag aan jou raak as jy hartseer is. Hande wat die mooiste rokke kon maak en warm truie kon brei. Ek dink nie daar is iets wat daardie hande nie kon doen nie.
Ek dink met algehele verstomming daaraan dat ek nog nooit ooit gewonder het of my ma al ooit gewerk het nie. Of sy nie ook ideale en drome gehad het nie. Sy was vreeslik slim. Het sommer van standerd vier na standerd ses gegaan. ‘n Fantastiese wiskundige brein gehad. Haar susters het altyd vertel dat sy die slimste van hulle elf susters was. Sy was maar net altyd daar...24 uur van die dag.
Ek sien haar in die kombuis voor die wasbak staan. ‘n Vêraf uitdrukking in die groen-bruin oë. Was dit dalk toe dat sy gedroom het hoe sy elke dag haar in haar motor klim om te gaan werk. Of miskien soggens as sy die blink hare sommer in ‘n poniestert kam. Het sy dan gedink hoe sy haar hare sou krul totdat dit sag en blink oor haar skouers hang, soos wat sy sondae kerk toe gemaak het. Of as sy die huisrokkie oor haar kop trek. Het sy haar verbeel sy trek een van die mooi kerkpakkies in haar kas aan. En in plaas van die plat gemaklike skoene, ‘n paar van haar mooi hakkieskoene. As pa sy salaris vir haar bring en sy eerste vir die huis sorg en dan vir ons en nooit vir haarself nie. Was dit toe dat sy vir ‘n oomblik gedroom het hoe sy haar eie salaris kry waarmee sy haarself kon bederf sonder om skuldig te voel.
Mammie ek is so jammer dat ek nooit besef het ma het ook drome en ideale nie. Maar vandag wil ek dankie sê omdat jy dit alles opgegee het vir ons. Dit was wonderlik om te weet vanmiddag as ek van die skool af kom is mammie daar. Om as ek by die hek kom al die heerlike reuk van sop of varsgebakte pannekoek of bruin uitgeryste vetkoek te kry. Om verwelkom te word met daai mooi glimlag wat al die laste sommer laat wegval het. As jy jou tas neersit...weet jy..eks by die huis...ma is hier en alles is reg.
Dankie dat ma elke dag daar was om my te vorm en te maak in die mens wat ek is. Dat die insette in my lewe so belangrik was dat ek selfs vandag nog wonder: “wat sou ma gesê en gedoen het” as ek in ‘n moeilike situasie kom.
En moekie jy was die beste boekhouer in die pos waar God jou gesit het. Want elke moeilike som wat die lewe in my pad gegooi het, het ma my gehelp ontrafel en uitwerk, die hoeke en grade uitgemeet, opgetel en afgetrek, gemaal en gedeel, todat ek kon verstaan waarvoor X staan. Die krediet en debietkante van die joernale het met ma se wysheid in plek geval. Totdat my proefbalans ten einde laaste geklop het. Want aan die bestuur van ons lewenskantoor was die beste boekhouer wat jy ooit sou kry.
Lief vir jou moeder en sal jou altyd mis.

Thursday, July 12, 2012

Voor op die wa-kind


Voor op die wa-kind

Ek was defnitief ‘n voor op die wa kind. Volgens my tannies kon ek sommer lank voor 2 al vlot praat. En hulle sal nie jok nie...hulle is voorbeeldige kerksusters.

In  graad 1 het ek sommer saam met my juffrou [Coetzee] die eerste dag skool toe gegaan. Waarvoor moes ek bang wees...ek het haar goed geken. Sy was een van ouma se vriendinne. Juffrou moes toe kantoor toe en vra ek moet na die klas kyk. Ek besluit toe almal moet hulle name op die bord kom skryf. Ek het natuurlik myne eerste geskryf. Eleen Grobler…so skuins teen die bord op. Ek het reggestaan met juffrou se bordliniaal...en elke kind wat nie sy of haar naam kon skryf nie...het net daar ‘ ‘n hou of twee op die hand gekry. Ek kon nie glo ‘n 6jarige kon nog nie haar/sy naam skryf nie.  Die seuns was sowaar die “domste” en het ook die hardste gehuil. Juffrou het by haar aankoms die treurige toedrag van sake gekry. Arme Kobus de Jager [later ‘n bekende advokaat] wat snikkend voor die bord staan en ek langs hom met die bordliniaal. Sy het haar hande in die lug gegooi en my sommer so met die plathand ‘n hou of drie op die kaal bo-beentjies gegee. Toe uit die klas gehol. Ek is vandag seker sy het buite gaan lag.

Ek was al ‘n groterige kind toe die pastoor een sondag preek oor “nou is die poort en min is die wat daar ingaan” Die kerk se voorsitter Oom Frikkie Botha was ‘n groot gawe reus van ‘n man. Die mense het gese hy eet sommer ‘n hele skaap by homself op. As hy by die deur inkom raak dit sommer skemer in die kerk. So staan almal na kerk buite en gesels toe my oog oom Frikkie vang. Hy was besig om swaar teen die trappe af te loop. Net daar onthou ek oom Pastoor se preek en net daar raak ek baie ontsteld, want ek was baie lief vir oom Frikkie. Ek ruk benoud aan ma se arm. My stem klink helder in die oggendlug... “Mammie, mammie, oom Frikkie gaan nooit in die hemel kom nie!” My ma word rooi en kyk geskok na my. Sy vra nog ewe verbaas: “Hoekom se jy so?” toe bars ek benoud los… “want hy is te vet en die poort is te nou, hy gaan nie deur kom nie.” Nodeloos om  te sê my boudjies het gebrand en ek dink dit was onregverdig...want ek was regtig net bang die oom is op pad warm plek toe.

Daar was ook ‘n oom in die kerk wat ‘n plaagbeheer besigheid gehad het. Ons kinders het stilletjies vir hom ‘n bynaam gehad wat ons nie voor die grootmense gebruik het nie. So sê ma na kerk vir my die oom en tannie kom tee drink en ons beter ons gedra. Skree ek net daar vir die res van die kinders wat al by die kombi wag: “julle oom Kokkeroitjie-hulle kom tee drink en ma se julle beter julle gedra!” My arme ma was bloedrooi in die gesig. Die tannie het my aangegluur, haar handsak onder die arm vasgeknyp, die oom aan die arm gegryp en reguit na hulle motor gestap. Ek moes stert tussen die bene gaan jammer sê. Die oom het agterna lekker daaroor gelag. Almal het hom toe oom Kokkeroitjie begin noem.

Tot môre

Eleen

Monday, July 9, 2012

Leen Briefies


Leen briefies

My ma was in die kombuis besig toe die twee maer dogtertjies aanklop. Die een skop-skop skaam met haar kaal bruingebrande voetjie na iets denkbeeldigs op die stoep. Die ander een hou sonder om te groet ‘n opgevoude papier na my ma uit. Sommer uit ‘n skool oefenboek geskeur. Voorop staan “Driekie Privaat” Ma nooi die twee kinders in en hulle drentel agter haar aan kombuis toe. Staan leunend teen die tafel, groot oog vol afwagting, na ma en kyk.

Ma vou die briefie oop. “Liefste Driekie, dit is more sussie se verjaarsdag. Peet het nog nie gepay nie. Ek wil vreeslik graag vir sussie ‘n koek bak. Jy weet hoe dit met die kinders is. Hulle kan nie begryp hulle pa het nog nie gepay nie. Driekie jy is die enigste vriendin na wie ek my in my nood kan wend. Kan jy as jy dit in jou hart kan vind asseblief vir my meel, eiers, bakpoeier, botter, vanilla essence, icing sugar, suiker en ‘n hartkoekpan leen. Ek bedank jou uit die diepte van ‘n moederhart wat net vir haar kind ‘n koek vir haar verjaarsdag wil bak. God seen jou en jou huis Driekie. Baie liefde jou altyd dankbare vriendin Rina.”

My ma het met haar oop hart dadelik al die goedjies in ‘n boksie gepak. Nie vanilla enssence nie maar cocoa sodat tannie Rina ‘n lekker tjoklit koek kon bak. In die laaie gesoek totdat sy 8 kersies vir die koek gekry het. ‘n Pakkie coolaid is ook ingepak. Wat sal koek dan nou wees sonder ‘n ou drink dingetjie? Die sussie kon hulle verligting en opgewondenheid nie wegsteek nie. “Haai dankie antie Driekie,” is ‘n paar keer herhaal, voor hulle soos hasies die pad afgehol het. Die boksie met sy kosbare inhoud styf vasgeknyp.

Na my ma oorlede is het ek nog baie sulke briefies ontdek. “Liefste Driekie ek staan weer met my hande bak voor jou. Die kinders het weke laas ‘n groentetjie oor hulle lippe gehad. Ek het besluit om maar vandag die werfhaan te slag. Die ding is nou net so; ek het geen dooie duit op my naam nie. Peet het alweer ons laaste paar pennies uitgesuip. Driekie wanneer gaan die beker wat ek elke dag moet drink vol wees? Kan jy asseblief as jy dit in jou hart kan vind vir my bietjie ertappels, ‘n ui, bietjie bone en dalk ‘n stukkie pampoen leen. Ai en dalk so koppietjie rys, as dit moontlik is.  ‘n Moederhart kan nie rus as sy sien hoe verhonger haar kinders nie. God seen jou en jou huis. Met ‘n dankbare hart. Jou vriendin Rina

Tannie Rina het baie swaar gekry. Haar man het al die geld uitgedrink. Sy het vreeslik hard gepraat. Alles wat in haar hart was het by haar mond uitgekom. Maar meer opregter sou jy ver soek om te kry.

Ek weet vir ‘n feit my ma sou nie die kindertjies lee hande huistoe gestuur het nie. Ek kan sommer sien hoe haar sagte oë blink. Hoe haar mooi hande sorgsaam die goedjies inpak. Die ertappels, bone, pampoen en koppietjie rys. Hoe sy ‘n pakkie rooi en groen jellie ook uithaal en inpak. En dan ‘n paar lepels vla afmeet. ‘n Botteltjie melk vir die vla. Sodat die uitgehongerde kindertjies met die oë te groot in die maer gesiggies n koningsmaal kon geniet.

Want my ma het geglo wat in die bybel staan:”As jou broer een myl van jou afdwing stap twee saam” So as jou vriendin vir jou groente vra om haar honger kindertjies te voed…stuur die groente maar moenie die rooi en groen jellie en die dik romerige vla vergeet nie. En as jy dit in jou hart kan vind stuur maar ‘n pakkie coolaid saam vir later. God seen jou en jou huis…

Friday, July 6, 2012

Padkos


Padkos

Ons het gereeld by my tannie-hulle [my pa se suster] in Tweefontein naby Sabie gaan kuier. Dit is ‘n dorpie waar al die werkers van Bosbou gewoon het. Dit is een van die lekkerste van die lekker tye wat ek onthou.

Weke voor ons sou ry het my ma al deur ons kaste gegaan. Alle klere wat nog goed was maar te klein vir ons is eenkant gesit. Saans het sy gebukkend oor die Singer gesit en getrap-trap om die nuwe rokkies vir die Stroh dogtertjies klaar te kry.

Houers vol soetkoekies, gemmerkoekies en koeksusters is gebak. Die dag voor ons vertrek was die kombuis gevul met die geure van hoenderboudjies, mincebolletjies, gekookte eiers en heerlike broodjies met kaas en tamatie. Die warmbottels het gereed gestaan om die volgende oggend net gou gevul te word.

Die volgende oggend donker het ons vaak-vaak maar baie opgewonde vertrek. Ons kinders het gewoonlik dadelik weer weggedommel droomland toe. Gewoonlik het die son net sy kop uitgesteek as pa by Watervalboven by die tafeltjies langs die pad stil gehou het. Die kosmandjie is dadelik afgetel en ons het heerlik aan die padkos gesmul. Tot vandag is ‘n sagte tamatiebroodjie vir my ‘n heerlikheid. Pa het dan ook weer vir ons die storie vertel van die bruid wat snags in haar wit trourok by die waterval dwaal.

Wanneer ons by ou Joe, die groot klip langs die pad verby is het ons geweet meer as helfte van die pad is verby. As ons Sabie binnery het almal penorent gesit en die pad dopgehou. Deur die dorpie, oor die rivier en dan voor ons was Tweefontein.

My pa het voor die bosbouhuis stil gehou. Ma het vir hom gekyk en sag geglimlag. Nog voor ons kon uitklim het die voordeur oopgevlieg en my jongste nefie [Dolfie] het uitgehardloop asof ‘n klomp jagters op sy spoor was. Sy vreeslike stem het glad nie by sy klein maer lyfie gepas nie. “Ma, auntie Driekie hulle is hier. Auntie Driekie, Auntie Driekie wat het auntie vir ons saamgebring.” Dan het hy my ma amper omgespring soos hy haar omhels het. Die ander Strohtjies het vaak vaak uitgekom om ons te groet. Tannie Johanna met haar swart krulle waarin ‘n kam gerus het, het ons met trane in haar mooi blou oe verwelkom.

Die padkos is eerste afgedra en dadelik op die groot geskropte kombuistafel oopgemaak. My tannie het groot bekers soet warm koffie gemaak. Almal het gelyk gepraat en geeët en gepraat en geeët. Die niggies en nefies het afwagtend na my ma gekyk. Sy’t met haar sagte blik na hulle gekyk en my broers gestuur om die kar af te laai. Die persente is aan elke kind gegee. Nuwe rokkies is dadelik aangepas en sommer aangehou. Die niggies het voor my ma kom ronddraai. Die ou en nuwe rokkies het ewe veel aftrek gekry.

Ons kinders het dadelik die strate ingevaar om ou maatjies te gaan opsoek. Al die kinders van die dorpie het saam gespeel in die stofstrate. Ons het ure in die woude om die dorpie gaan stap. Ons verlustig in die skemer donker van die bos en die geur van dennenaalde.

My tannie het vir middagete yslike groot bruin vetkoeke gebak. My rooikop broer het die eerste en grootste vetkoek gekry. Hy het net soos my nefie gelyk wat op 16 in ‘n motorongeluk oorlede is. My tannie het self die vetkoek vir hom aangegee. Dan terwyl sy die ander bak met genot gekyk hoe my broer se tande in die lekkerte wegsink. Dan het sy vir ma gekyk en geglimlag maar haar oë was nat en blink. Haar gesig het vertrek asof sy iewers ‘n vreeslike pyn het. My ma het agter haar gaan staan en my tannie het vir ‘n oomblik teen haar aangeleun.

Saans is ons kinders vroeg kamers toe gestuur. Groot krismisbeddens vir die meisies in een kamer en seuns in die ander kamer is opgemaak. Daar het ons gelê en giggel en gesels. My broers het die kans gebruik om die by ons huis absoluut verbode, Ruiter in Swart, Tessa en die Swart Luiperd te lees.
Dan het my oom sy kitaar uitgehaal. Die note het sag soos ‘n somerreen begin val. Ma en pa het begin sing. Ek kan hulle nou nog hoor. Rock of Ages cleft for me…let me hide myself in Thee…Dan sing my siel, my Here, hoe groot is U. Sal die kring daarbo volmaak wees....Ek kan hoor my Heiland roep my...Pa se stem soos warm fluweel en ma se lieflike altstem. Dan het die inwoners van die dorpie voor die hek kom staan om deur die oop vensters verwonderd na die hemelse musiek te kom luister. En miskien sou die sangers dalk kon skouers skuur met beroemde kunstenaars…so groot was hul talent. Maar nerens in enige konsertsaal in die wereld sou jy weer sulke musiek hoor nie. Sou die stemme en die woorde jou so aangryp en veertig jaar later nog so helder in jou siel en gedagtes weerklink nie.  Die hemelse aanbidding die trane uit jou oë laat loop soos die musiek wat daardie aand gehoor is nie.
In ‘n eenvoudige sitkamer met afgeleefde meubels in ‘n bosbouhuis op Tweefontein.